Winkelsentrum in Kenilworth brand

Die brand het Woensdagnag uitgebreek. (Foto: Verskaf)

Dele van ʼn winkelsentrum in Kenilworth, Kaapstad, is Woensdagnag verwoes nadat ʼn brand in die sentrum uitgebreek en deur die nag gewoed het.

Jermaine Carelse, woordvoerder van die brand-en-reddingsdienste in Kaapstad, sê die metro se brandweer is om 23:30 in kennis gestel dat daar rook uit die Access Park-winkelsentrum kom.

“Wynberg se brandweerstasie was eerste op die toneel en het bevestig dat die gebou aan die brand is,” sê hy.

“Nog hulp is ontbied in ʼn poging om die brand so gou moontlik te blus.”

Altesame tien brandbestryders van verskeie brandweerstasies het deurnag gewerk om die brand te blus.

Die sentrum se HDC Home Departement Store, CAB Foods en ʼn AMG-handelaar en werkswinkel het in die slag gebly, voordat die brand eindelik Donderdag om 05:00 geblus is.

“Spanne is steeds op die toneel en hanteer enige gevalle waar die brand dalk weer kan opvlam,” sê Carelse.

ʼn Strukturele ingenieur en ʼn brandveiligheidsinspekteur is reeds na die toneel ontbied om die omvang van die skade te bepaal.

Dit is nie in hierdie stadium duidelik wat die oorsaak van die brand was nie.

Die jongste brand kom ure nadat ʼn wegholbrand in die Kaapse Wynlande uitgebreek het. Dié brand het Dinsdag aan Worcester se kant van die Du Toitskloofpas uitgebreek en het teen Woensdag aan die weegbrugkant van die N1-hoofweg gewoed.

Die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit (KWDM) se branddienste en CapeNature het Donderdagoggend bevestig dat die brand in die pas beperk is.

“Die brandspanne kon gisteraand in die koeler aandlug uitstekende vordering maak met die bekamping van die brand,” lui die jongste opdatering oor die stand van sake.

“Die brand is gisteraand om 22:00 geblus. Daar is nog ʼn klein area wat op ʼn moeilik bereikbare krans smeul, maar dit behoort vanself dood te gaan aangesien dit deur rotse omsingel is.”

Brandbestryders sal nogtans vandag voortgaan met moniterings- en opruimingstake.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.