Brandweer spook om brand in Kaapse Wynlande te bestry

Die brand woed sedert Dinsdag. (Foto: Verskaf)

Brandbestryders in Kaapstad spook steeds om ʼn brand wat Dinsdag in die Kaapse Wynlande uitgebreek het onder bedwang te bring.

Die brand het aan Worcester se kant van die Du Toitskloofpas uitgebreek en woed tans aan die weegbrugkant van die N1-hoofweg.

Dit word deur ʼn kombinasie van ou en gemengde plantegroei, asook rukwinde in die gebied aangevuur.

Die Kaapse Wynlande‑distriksmunisipaliteit se brandweer het in ʼn verklaring gesê dat hy saam met ʼn span van CapeNature probeer om die brand te blus.

“Die brandlyn wat parallel met die N1 loop, is meestal onder beheer en brandweerspanne is tevrede met die vordering wat gemaak word om dit heeltemal te blus,” lui die verklaring.

Altesame 28 brandbestryders takel met behulp van drie brandweervoertuie dié brand.

(Foto: Verskaf)

“Die linkerflank van die gebied bied egter probleme as gevolg van die digte plantegroei.”

CapeNature het tans 43 spanwerkers en personeel op hierdie brandlyn. Die Breedevallei- plaaslike munisipaliteit het ook spanne gestuur wat watertenkwaens aan die brandbestryders verskaf.

“Spanne sal deur die aand en môre voortgaan om die brand te bestry.”

Volgens die brandweer is die N1 steeds oop vir motoriste, hoewel een van die bane net ná die weegbrug gesluit is om die brandweervoertuie te akkommodeer.

“Die brandweer versoek dat motoriste asseblief versigtig ry wanneer hulle verby die brandweervoertuie gaan, maar nie stadiger ry of stilhou vir foto’s nie juis omdat dit ander motoriste in gevaar sal stel.”

Dieselfde span brandbestryders het vroeër die dag ʼn klein brand by Ceres bestry. Die brand was egter hoog op in die berg en het nie enige gevaar vir infrastruktuur of mense ingehou nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Owlie ·

Net vroeer die week is n dom stelling gemaak dat die Weskaap gereed is vir brande nou….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.