Wiskunde was haar ‘swak plek’, toe kry Emma 99%

Emma Nel (Foto: Verskaf)

Dit was niks minder nie as oë toeknyp en werk vir een matrikulant van Kaapstad wat nie wou hê dat haar wiskundepunt haar gemiddeld negatief beïnvloed nie.

Emma Nel van die private skool Reddam House Durbanville, Kaapstad, het verlede jaar haar sogenaamde “AS-vlakke” van die Cambridge International-kurrikulum se eksamen afgelê en dit ná maande se harde werk met lof geslaag.

Benewens die onderskeidings wat sy in Engels, Biologie, Chemie en Fisiese Wetenskap gekry het, het sy ook 99% vir Wiskunde behaal.

“Dit was nie maklik nie,” gee Emma toe.

“Min mense glo my nou, maar aan die begin van my AS-vlakke het ek nogal gesukkel met wiskunde. Ek het dikwels skaars 80% gehaal.

“Sowat twee maande voor die Junie-eksamen het ek besluit om my lot in my eie hande te neem, en ek was vasberade dat my wiskundepunt nie my gemiddeld afbring nie.”

Emma sê sy het vir weke lank elke oggend om 05:00 opgestaan en ʼn wiskundevraestel deurgewerk. Dit het so goed gewerk dat sy besluit het om daarmee voort te gaan tot die einde van die jaar.

Maande later het die toewyding en harde werk vrugte afgewerp toe sy boonop beter as enige van haar klasmaats in Wiskunde presteer het.

Ondanks al die voorbereiding was dit nie maklik vir Emma nie. Sy sê sy was tydens elke vraestel angsbevange, maar op die ou end was dit nie eens nodig nie. Emma het in die matriekeksamen ʼn gemiddeld van 91,4% behaal.

Sy is ook by die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit van Kaapstad aanvaar om medies te studeer.

Emma begin op 1 Februarie by die US en beplan om eindelik in chirurgie te spesialiseer – dalk plastiese chirurgie of neurochirurgie.

“Tot en met hoërskool wou ek eintlik ingenieurswese studeer het, maar toe het ek meer betrokke geraak by gemeenskapsdiens en is ek mettertyd meer aan die mediese wêreld blootgestel. Dit het uiteindelik ʼn passie by my aangewakker,” sê sy.

“Ek is wel baie dankbaar om medies in Suid-Afrika te kan studeer, want die onderrig wat mediese studente hier ontvang is fantasties in vergelyking met ander plekke in die wêreld.”

Emma het egter nog nie die moontlikheid uitgeskakel om eendag elders in die wêreld te praktiseer nie.

Hou Maroela Media dop vir nog onderhoude met toppresteerders van Reddam House.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

George ·

Ek onthou op skool die tiepe studente, ekt een jaar uitgestap en gedink, sjoe dit was nou billike vrae stel, toe staan so een verby en praat oor hoe moeilik dit was lol

AmY ·

Baie geluk!
Sterkte vir die toekoms.
Ek sal jou kom besoek oor 10 jaar. -) ;

Jaco ·

Onthou net van “punte opwaarts aanpas” en van skoolstandaarde wat in geheel BAIE laer is as in die ou SA. Trek maar so 25% af om dié huidige “uitstaande prestasies” op die vlak van die ou SA se skoolstandaarde te bring

Papsak ·

Ja pragtige kind ons kids mag maar baie geluk net jammer vir die ander wat so dom soos grond is wat se slaag syfer nou moet laag gemaak word bou voort ons kids mag maar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.