Xander getuig: ‘My hart was gebreek toe ek van hul selfmoord hoor’

Xander Bylsma getuig tydens sy moordverhoor. (Foto: Tania Heyns)

Die 20-jarige moordbeskuldigde Xander Bylsma het Vrydag in die hooggeregshof in Mmbatho in Noordwes volgehou dat hy onskuldig is in die moorde op sy eksmeisie Sharnelle Hough en haar boesemvriendin Marna Engelbrecht.

“Het u enige betrokkenheid by hulle [Sharnelle Hough en Marna Engelbrecht] se dood gehad?”

“Nee, u edele.”

Bylsma het in die getuiebank sy weergawe van gebeure gegee rondom die aand van 25 Mei en die oggend van 26 Mei 2018 toe die meisies vermoor is.

Volgens Bylsma het hy en Sharnelle die Woensdagaand voor die moorde versoen geraak. Dié twee was vir ’n jaar saam voordat die verhouding sowat ’n maand voor die voorval skipbreuk gely het, het hy verduidelik.

“Ek het haar daardie aand (23 Mei 2018) gebel en ons het ʼn baie lang gesprek gehad oor ons verhouding. Op die ou einde het ons gesê ons gaan ons verhouding weer ’n kans gee. Ons het daardie selfde aand gereël dat ek haar die Vrydagaand sou sien.”

Bylsma vertel dat hy en sy pa, Monte Bylsma, die betrokke Vrydag ’n kursus in die Louwna-omgewing aangebied het. Dié kursus het laat aangehou en hy het eers saam met vriende gekuier voordat hy omstreeks middernag vir Sharnelle gebel het.

Volgens Bylsma het hy Sharnelle gebel om te sê hy is in Stella, waarna hy in die straat voor die koshuis parkeer het. Hy het getuig dat hy nie langer as tien minute vir Sharnelle gewag het voordat sy eindelik by hom aangesluit het nie.

“Sy het afgekom na my bakkie en ons het in my bakkie gekuier. Ons het tussen ’n uur en ’n uur en ’n half gekuier waarna sy teruggegaan het koshuis toe,” het hy getuig. Later sou die hof hoor dat die twee volgens hom in die bakkie gesels, gesoen en selfs seks gehad het. Hy het glad nie vir Marna dié aand gesien nie, het Bylsma aangevoer.

Staatsaanklaer in die Stella-moordsaak, Johan Smit. (Foto: Tania Heyns)

“Ek het teruggegaan na my ma se huis op ’n plaas sowat 15 km buite Vryburg op die Kurumanpad. Ek het Sharnelle twee keer gebel en gevra of sy reg is met al die reëlings en of sy gelukkig is.”

Volgens Bylsma het hy nie dadelik gaan slaap nie, maar eers vir ’n wyle by die plaashek gesit, koeldrank gedrink en gerook. Hy het gesê hy is later huis toe, het ’n rukkie met sy ma-hulle gesels en toe eindelik vir ’n kort ruk gaan slaap.

Bylsma het getuig dat hy die Saterdagoggend omstreeks 06:00 opgestaan het om terug Louwna toe te ry waar die kursus voortgesit sou word. Hy moes egter op pad soontoe eers vir sy pa ’n sleutel by iemand gaan kry.

“Terwyl ek die sleutel op sy [dié persoon se] plaas opgetel het, het ek ’n oproep vanaf Limari Hough, een van Sharnelle se niggies gekry. Sy het my ingelig dat Sharnelle en Marna selfmoord gepleeg het. Ek is toe na my pa se plaas. Ek was geskok. Ek was emosioneel. Ek was baie hartseer gewees,” het hy getuig.

Volgens Bylsma het hy sy pa by die plaas se hoofhek gekry waar hy die nuus aan sy pa meegedeel het. Vandaar is die twee kursus toe en later weer huis toe.

“Toe ons daar kom was ek baie emosioneel gewees. Ek het na my kamer toe gegaan en ’n hand vol pille gedrink. Ek was baie emosioneel oor die nuus oor Shanelle. Dinge het maar net ʼn bietjie te veel geraak vir my,” het hy gesê.

Volgens Bylsma was dit in dié stadium dat Stefans Engelbrecht, Marna se pa, en Chris Saunders op die plaas aangekom het en hy na die polisiestasie geneem is.

Waarom dan nie Stella toe jaag nie?

Staatsaanklaer Johan Smit wou tydens kruisondervraging by Bylsma weet waarom hy nie Stella toe gejaag het die oomblik toe hy van Sharnelle se dood gehoor het nie.

“Jy het vir ons gesê jy was baie lief vir Sharnelle en volgens jou was sy ook baie lief vir jou. Hoekom het jy nie Stella toe gejaag om te sien wat aangaan nie,” wou Smit weet.

“As mense my toestand gesien het, sou hulle verstaan hoekom ek nie Stella toe is nie,” het Bylsma geantwoord.

Sharnelle Hough (17), links, en Marna Engelbrecht (16). Foto: Via Facebook

Later het Bylsma bygevoeg dat, indien hy sy eie motor by die kursus gehad het, hy beslis Stella toe sou ry om uit te vind wat met die meisies gebeur het. Volgens hom was hy en sy pa egter met slegs sy pa se voertuig by die kursus en daarom was dit nie vir hom moontlik om Stella toe te ry nie.

“Hoekom het jy nie vir jou pa gesê dat die liefde van jou lewe dood is en dat jy Stella toe moet gaan nie?”

“Ek het hom ingelig oor wat gebeur het. Hy het nie toegelaat dat ek alleen gaan nie. Hy het aangedring dat ek saam met hom kursus toe gaan,” het Bylsma gesê.

“Jou pa staan jou 100% by tydens hierdie verhoor. Ek sien hoe hy jou elke dag druk. Dit is duidelik dat Monte Bylsma vir sy seun omgee. Nou wil jy hê ons moet glo dat, indien jy vir hom gesê het dat die liefde van jou lewe dood is en dat jy Stella toe moet gaan, hy steeds sou aandring dat jy saam met hom kursus toe moet gaan?,” het Smit gevra.

“My hart was gebreek. Ek kon nie eens met my pa praat nie. Ek het net gehuil.”

“Het jy ooit gevra of hy jou asseblief Stella toe kon vat of ander reëlings tref om jou in Stella te kry?”

“Nee ek het hom nie gevra nie,” het Bylsma eindelik geantwoord.

Bylsma het vanoggend Anastasia Visser en Brandon Victor se getuienis vroeër vandeesweek in die hof ontken.

Die kruisondervraging duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Heksie ·

Ag asseblief … dis ook net jy wat jou eie bs sal glo! Don Steenkamp het ook probeer om homself te verontskuldig … hy sit tans in die tronk … wat jou voorland ook is!

Lizelda ·

Die mannetjie is uitgeslape! Maar hy lieg so en n mens sien dit as jy die berig lees. Maar…die Staatsaanklaer het baie meer ondervinding. Die liefde v jou lewe “pleeg selfmoord” en beste vriendin en jy woon n kursus by??? Joh hoe dom dink hy is die staatsaanklaer en regter?

Judge Dredd ·

So is die baie lang foon gesprek die 117 sekondes een of die menige korter oproepe ?

MJ ·

Hoekom sal ‘n meisie wat so pas versoen geraak het met die liefde van haar lewe onmiddelik daarna gaan selfmoord pleeg? En dan sommer nog die vriendin ook?! Regtig?!!!

Joon ·

Gewoonlik ma wat kloek en nie PA. Waar was pa die aand van moorde?

Jerry B ·

Hy lieg so hy glo homself. Sal knak ondet kruis verhoor. Ons weet almal wat sy voorland is. Moet hom uit die gemeenskap verwyder ongelukkig geen ander keuse. Voel jammer vir die ouers kan net indink al die stres.

se net ·

Hoe oud was die meisie? Mag hy goedsmoeds sommer sex he? Dalk nog n verkragting ook agter sy naam.

Wonder ·

Wel as hulle seksonderig op 10 jarige ouderdom wil gee in skole dink ek daai stelling van jou kan jy skraap

Kokkie ·

Dit sal interessant wees om te hoor wat die pataloog se verslag sê aangaande die bewering dat hulle seks gehad het.

Kadawer ·

Na die polisie agter gekom het die meisies is vermoor en het nie selfmoord gepleeg nie, sou die patoloog nie ook toetse gedoen het om te sien of die meisie(s) seksueel aangerand is nie? Dan kan dit mos moontlik Xander se getuienis heeltemal laat platval?

Kas ·

Linda,hy wou van die begin af nie aansoek doen vir borg nie.Wie wou hy omkoop on borg te kry en hoekom.Hoekom sou hy Botswana toe wou vlug.Gelukkig her hy nie want daar sou hy swaar gekry het.Nee dit word al hoe duideliker:guilty as charged.Hoe kon Marna haar self verwurg.

Landie ·

Lank tyd gehad om aan daai liegstorie te dink. En dan nog die vinger te wys na die nuwe kerel. Watter motief sal hy opdis. Onmoontlik dat 2 pragtige meisies saam selfmoors sou pleeg.

Onnie ·

Dis belaglik! Daai laaitie moet dink almal is so dom soos hy om die pot bollie te glo wat hy nou opdis. Kan sy prokureur ook nie vir hom sê sy storie klop nie? Als wat hy lieg is ooglopend teenstrydig met die fisiese bewyse. My pa sou gesê het: Hy lieg so, hy glo hom self. Ek vertrou die regter is so slim soos MM-lesers, en sien sommer dadelik deur sy liegstories.

Chris ·

Hoekom dink julle het sy vorige regsverteenwoordigers so skierlik hom gelos. Sy oggend en aand praaitjies kom nie ooteen nie. Nou wil die nuwe regsman sommer die nuwe kerel frame, al waar hy dink hy is skerps maar almal het klaar deur hom gesien

Griet ·

Nou hoe sou Marna selfmoord pleeg met ‘n handsak band om haar nek op die onderkantste vloer terwyl haar maatjie haarself van die boonste trapreling hang? Sou hulle nie liewer by mekaar wou sterf nie? Ja-nee, ‘n liegery bly maar ‘n moeilike ding om reg te kry en oortuigend te lyk.
Soos die grappie lui: “Net omdat ek dit gedoen het, beteken dit nie ek is skuldig nie”. God sien alles – al betaal ons nie ons skuld in hierdie lewe nie sal ons dit wel in die hiernamaals doen.
Sterkte aan al die betrokke ouers.

Cherokee ·

Hulle het dieselfde tipe uitlatings gemaak toe ‘n sesjarige meisiekind ontvoer is, en die tjol wat opgedis was, wat selfs die kind se ouers beskuldig het. Nie een van hulle het daarna skuld erken aan leuentaal nie.

JohanR ·

Het die ou nie die eed afgele nie namens : Oath: I swear that the evidence that I shall give, shall be the truth, the whole truth and nothing but the truth, so help me God. Affirmation: I solemnly affirm that the evidence that I shall give, shall be the truth, the whole truth and nothing but the truth. As die CSI en polisie mooi hulle werk gedoen het, sal die regter hopelik die res doen, en die ou wegstuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.