Zille groet Twitter

Helen Zille. (Foto: Tracey Adams/ANA)

Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, het Maandag aangekondig dat sy haar Twitter-rekening sluit. In ʼn rits twiets op die sosialemediaplatform sê Zille sy het die besluit geneem ná die “groteske behandeling” van haar kleindogter Sondag.

Zille het die afgelope naweek ʼn foto van haar kleindogter gedeel waar dié haar tydens beurtkrag help kook. In kommentaar daarop het sommige Twitter-gebruikers onder meer gevra of sy die meisietjie as ʼn huishulp probeer oplei en of die kind haar slaaf is.

“Twitter het ontaard in ʼn platform vir irrasionaliteit en ʼn plek waar skares jou sonder ʼn geregtelike verhoor hang. Alles wat verdraai en verander kan word vir ʼn haatgevulde agenda word gebruik om woede te vervaardig en die maksimum skade te berokken,” het Zille getwiet.

“Vir baie lank het ek Twitter probeer bevorder as ʼn platform vir rasionele en beskaafde debat, maar dit is duidelik onmoontlik.”

Zille se Twitter-plasing het weereens groot reaksie ontlok. (Skermskoot: Twitter)

Zille sê die platform is nou ʼn plek vir verdraaiing, ʼn plek waar konteks verwyder word; waar mense gedemoniseer word en waar dubbel standaarde hoogty vier.

“Pleks daarvan dat dit debat gedemokratiseer het, het dit vryheid van spraak en besprekings ingeperk. Dit maak jou vyande dapper en jou vriende stil.”

Zille sê die enigste ding wat sy gaan mis, is die plasings van die rasionele en interessante mense wat sy gevolg het.

Sy het intussen ʼn nuwe, private rekening, @ZilleTweets, geopen, maar sê dit is slegs vir diegene wat belangstel in beredeneerde debat. “Ek gaan natuurlik net weet of iemand belangstel in rasionele debat as ek hulle óf persoonlik, óf deur vorige Twitter-interaksie ken. Dit beteken ek kan diegene wat belangstel in sulke debat verwerp omdat ek hulle nie ken nie.

“Ek vra om verskoning daarvoor, maar dié bose platform – wat geen doeltreffende manier kan vind om vals rekeninge op te spoor en op te tree teen diegene wat haatspraak pleeg (soos in die Grondwet gedefinieer) nie, bied geen alternatief nie. Mooi loop as jy dit goed bedoel. Ek is weg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

katerinadiekat ·

As haar kleinkind wit was sou niemand n woord gese het nie. Liewe hemel..Some people have Forests on their shoulders, never mind a chip!

Pieter J ·

Ek dink dit is beter dat sy liewers nie twitter gebruik nie want sy skep net probleme vir haarself. Ek dink haar oordeel laat haar soms sleg in die steek.

Johan Venter ·

Dit is die Nuwe Suid-Afrika waarmee ons elke dag moet saam leef. As jy nie stil geskree word nie, word jy stil getweet.

Michael ·

Ek het nog altyd gedink Twitter is n onding ,ek is verbaas dat Hellen se kleinkind swart is is sy aangeneem of biologies?

Jaco ·

Twitter in die land is al baie lank die platform vir rassehaat en haat in die algemeen. Jy kan n opmerking maak soos die son skyn lekker vandag, binne 5 opmerkings sal dit iets heel anders wees.

Chris ·

Ai jai jai. Daar slaan die ware persoon nou deur. Me Zille is nou die Helen vir die publiek. Me Zille as jy jou uitgee as ‘n toffie moenie tjank as jy gekou word nie. Sy was mos ook een van die voorbokke in die “sokkel stryd” (struggle). Black Sash tannie, met die getuigskrif. Helaas maar le laat, skop jou aanhangers en mede sokkelaars jou binne in jou tanne in. As dit te warm in die kombuis raak, gee pad en gaan staan oppie stoep.

Wielspore ·

Enige sosiale platform wat die gebruiker volle gebruik toelaat vereis dissipline en kan nie gebruik word as mondspoel middel. Heelwat gebruikers het al hulle vingers verbrand met ‘n fluister op twitter as hulle iets plaas in die hitte van die oomblik. Lesers het baie tyd om daardie fluister te lees, ondersoek, afleidings te maak en dan met ‘n strategie ‘n aanval te loods.
Gesels eerder persoonlik met jou skoonma… as sy skinder dra sy die vrugte
Lekker fluister op twitter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.