Zoeloekoning gekroon

Misuzulu het voor die skare te voorskyn gekom met ʼn uitrusting van swart vere wat om die middel vasgemaak is deur ʼn gordel, ʼn spies en ʼn skild (Foto: Phill Magakoe, AFP)

Die Zoeloe-gemeenskap het Saterdag ʼn nuwe koning gekroon ná ʼn jaar van twis oor wie die troon van die land se mees invloedryke tradisionele monargie moet bestyg.

Misuzulu Zulu Zwelithini (47) volg sy pa, Goodwill Zwelithini, op wat in Maart verlede jaar ná 50 jaar in beheer gesterf het.

Hoewel die titel van koning nie uitvoerende mag verleen nie, het Zoeloe-monarge groot morele invloed oor meer as 11 miljoen Zoeloes, wat byna ʼn vyfde van Suid-Afrika se bevolking uitmaak.

Duisende mense van die Zoeloe-gemeenskap het Saterdag by die Zoeloe- koninklike paleis in KwaZulu-Natal bymekaargekom om die kroning van Misuzulu te aanskou.

“Vandag begin die Zoeloe-nasie ʼn nuwe hoofstuk,” het Misuzulu van ʼn podium in ʼn groot wit markiestent aan die skare gesê. Hy het ʼn tradisionele luiperdvel en ʼn halssnoer van roofdierkloue aangehad.

“Ek belowe ek sal daarna streef om die Zoeloe-nasie te verenig.”

Van vroegoggend af het mans en vroue in kleurvolle tradisionele uitrustings buite die marmerpaleis op die heuwels van Nongoma – ʼn klein dorpie in die suidoostelike provinsie van KwaZulu-Natal, die Zoeloe-hartland – begin vergader om die nuwe monarg te vereer.

“Dit is ʼn wonderlike dag, ons maak geskiedenis,” het Bongani Khumalo (80), wat deel is van die regimente van krygers wat verantwoordelik is vir die beskerming van die koning, gesê.

Te midde van die feesvieringe het ʼn hewige familietwis oor die troon egter gewoed.

Terwyl die vieringe begin het, is ʼn regsappèl van ʼn tak van die koninklike familie om alle seremonies stop te sit ter elfder ure deur ʼn hof van die hand gewys.

Kroningsrituele

In Nongoma het linies van Zoeloe-krygers, bekend as die Amabutho, met spiese en skilde van dierevel die paleisterrein ingemarsjeer (Foto: Rajesh Jantilal, AFP)

In Nongoma het linies van Zoeloe-krygers, bekend as die Amabutho, met spiese en skilde van dierevel die paleisterrein ingemarsjeer. Hulle het ure lank oorlogsdanse uitgevoer terwyl hulle gewag het dat die koning verskyn.

In ooreenstemming met tradisie het Misuzulu ʼn leeu ʼn paar dae voor die seremonie doodgemaak.

Hy het Vrydagaand die paleis se “veekraal” binnegegaan waar hy deelgeneem het aan ʼn geheime ritueel wat ontwerp is om die nuwe monarg aan sy voorvaders bekend te stel.

Gedurende die dag het vroue – sommige met kaal borste, ander in geplooide rompe en gordels met krale of gedrapeer met materiaal wat die beeltenis van die koning dra – gesing en gedans.

Misuzulu het voor die skare te voorskyn gekom met ʼn uitrusting van swart vere wat om die middel vasgemaak is deur ʼn gordel, ʼn spies en ʼn skild. Hy het by ʼn linie van krygers aangesluit.

Familietwis

Misuzulu se pad na die troon was glad nie maklik nie.

Koning Goodwill het ses vroue en minstens 28 kinders agtergelaat. Misuzulu is die eerste seun van Goodwill se derde vrou, wat hy in sy testament as sy opvolger aangewys het.

Die koningin het ʼn maand later onverwags gesterf en ʼn testament nagelaat wat Misuzulu as die volgende koning benoem – ʼn ontwikkeling wat ander takke van die familie nie goedgekeur het nie.

Koningin Sibongile Dlamini, die ontslape koning se eerste vrou, het haar seun, prins Simakade Zulu, as die regmatige erfgenaam ondersteun.

Sibongile se wettige bod om die opvolging te betwis, het Vrydag herleef aangesien sy die reg gegun is om teen ʼn vorige ongunstige beslissing te appelleer.

ʼn Hof in Pietermaritzburg het Saterdag ʼn dringende mosie van twee van haar dogters van die hand gewys om alle rituele stop te sit.

“Diegene wat Zoeloe is en die tradisies ken, weet wie die koning is,” het Themba Fakazi, ʼn raadgewer van die vorige heerser wat Misuzulu ondersteun, gesê.

Die volgende Zoeloe-monarg sal ʼn fortuin erf en ʼn groot bron van inkomste kan benut.

Goodwill het sowat R71 miljoen per jaar van die regering ontvang en het verskeie paleise en ander eiendomme besit.

ʼn Koninklike trust bestuur byna drie miljoen hektaar grond – ʼn gebied omtrent so groot soos België.

Pres. Cyril Ramaphosa, wat Misuzulu in Maart as die regmatige koning erken het, gaan die bekroning in die komende maande formeel met ʼn seremonie bekragtig.

Die nuwe koning het twee vroue en vier kinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Di ·

Lees ek reg? Goodwill het sowat R71 miljoen per jaar van die regering ontvang. Waar kom hierdie geld vandaan? Intussen krepeer ons eie mense van ellende

Waarnemer ·

Gaan cyril staatsgeld gebruik of phala phala dollars vir sy gatkruip seremonie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.