Zondo: Morele verval van ANC-koukus kom aan die lig

Adjunkhoofregter Raymond Zondo. Foto: ANA.

Die bedenklike moraliteit binne die parlementêre koukus van die ANC het die kollig gesteel tydens Dinsdag se sitting van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.

Die langverwagte getuienis van die ANC-LP Zukiswa Rantho, wat haar werk verloor het en moes toesien hoe haar gesin afgedreig word nadat sy as voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings meer energiek as die meeste ANC-voorsitters was om agter die verrotting in Eskom te kom, het grootliks ʼn muis gebaar.

Rantho se getuienis voor die kommissie was grootliks ter verdediging en verduideliking van die ANC se koukus-werkwyse, en sy het die getuienis van opposisie-parlementslede soos Natasha Mazzone van die DA en Themba Godi van die PAC dat die opposisie hul werk beter as die ANC doen, weerspreek.

Volgens haar was daar, toe die DA aanvanklik begin aandring het op ondersoeke, nie genoegsame bewyse om ʼn ondersoek te regverdig nie, maar mettertyd het ANC-LP’s begin besef getuienis teen die Gupta-familie hoop op.

Sy het op ʼn vraag van adjunk-hoofregter Raymond Zondo uit die voorsitterstoel ontken dat die politieke wil in die ANC-koukus ontbreek het om staatskapers vas te vat.

Op ʼn verdere vraag van Zondo waarom die portefeuljekomitee nie ná koerantberigte oor die Waterkloof-landing vir die Gupta-troue in 2013 of die koerantberigte dat die Gupta-familie die samestelling van die Eskom-raad bepaal het, daadwerklik ondersoek ingestel het nie, het Rantho aangevoer die parlementêre jaarprogram was net te vol daarvoor.

Zondo het opgemerk dat dit lyk of sy die nalaat van optrede teen staatskaping verdedig, maar dit is deur Rantho ontken.

Rantho het ontken dat ANC-binnegevegte teen 2017 enigsins verlammend op portefeuljekomitees ingewerk het, maar het nietemin getuig van die verdeeldheid in die ANC-koukus oor die wenslikheid van ʼn omvattende ondersoek na staatskaping by Eskom, omdat die bevindings sleg kon lyk vir die ANC se aansien by die kiesers.

Die steun van die destydse ANC-hoofsweep, wyle Jackson Mthembu, vir die ondersoek het egter die deurslag gegee, het Rantho getuig.

“Daar was baie druk op my van alle kante, maar uiteindelik het my gewete voorgeskryf dat ek verseker dat Suid-Afrikaners op die korrekte inligting geregtig is.

“Dit het egter gevolge gehad. My eggenote en seun is gedreig, en my ANC-tak in Aliwal-Noord het geweier om my weer te benoem, sodat ek my posisie as ANC-LP kwyt is,” het Rantho vertel.

Na haar het James Selfe, DA-LP, metodies, feitelik en meedoënloos getuig oor sy jarelange stryd teen die korrupte toeken van tenders aan die Bosassa-groep deur die departement van korrektiewe dienste.

Die kommissie sal sy werk Donderdag voortsit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

BARNEY ·

Ja nee, as die kop vrot is verrot die hele liggaam. Ongelukkig kos die verotte liggaam ons belastung betalers miljarde Rande.

Chris ·

Wil iemand my ‘n weddenskap aangaan dat die kommisie wat reeds miljoende Rande kos om te hou, hul werk gaan klaar maak en daarna in die niet verdwyn. Die vedoemende getuies dieselfde. Niks gaan van niemand oor kom nie. Hoe gouer ons begin besef Afrika is Afrika. Dit werk anderste hierso.

Michael ·

Die enigste aspek waarmee ek van jou verskil Chris is dat dit duisende miljoene rande gaan kos. Alles is maar net om kiesers te paai en baie mense baie ryk te maak deur Zondo kommissie

Kokerboom ·

Dan lieg die verrotte kader sonder om te bloos…sy weet nie wat dit is!Die verwydering van ANC moet nou sonder verwyl geskied!!!

Jakes ·

Dit is reeds oor dekades bewys dat die ANC nie bevoeg is om n nasie te regeer nie. Wat wel n feit is, is dat die ANC besmet is met kriminele elemente in sy geledere en dat dit SA miljarde gekos het sedert 1994.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.