Zuma se taksrekords dalk tóg binnekort bekend

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: Itumeleng English/ANA)

Die Konstitusionele Hof het bevind dat sommige artikels van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) en die Wet op Belastingadministrasie – wat ʼn derde party verbied om toegang tot belastingrekords te verkry – ongrondwetlik is.

Die land se hoogste hof het in ʼn meerderheidsuitspraak gelas dat belastingrekords onder beperkte omstandighede én in die openbare belang bekend gemaak mag word.

Die uitspraak beteken dat sekere belastingrekords van oudpres. Jacob Zuma tog bekend gemaak mag word, sou die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) dit in die openbare belang ag.

Dit volg nadat die inkomstediens aanvanklik geweier het om Zuma se belastingrekords van 2010 tot 2018 bekend te maak.

Financial Mail en die ondersoekende joernalistieke eenheid amaBhungane het die rekords ingevolge ʼn Paia-aansoek versoek ná die publikasie van Jacques Pauw se boek, The President’s Keepers, in 2017.

Die boek bevat bewerings dat Zuma nie aan belastingwetgewing voldoen nie.

Die versoek om toegang tot die oudpresident se belastingrekords is egter destyds deur die SAID van die hand gewys omdat die wetgewer hom verbied het “om op enige ander manier” op te tree.

Die Konstitusionele Hof het die parlement nou 24 maande gegee om die nodige wetgewing te wysig. Die hof het ook die inkomstediens beveel om die versoek ingevolge sy uitspraak te heroorweeg.

Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID, sê hulle neem kennis van die uitspraak.

“Ons respekteer die bevindings van die hof en sal die presiese gevolge daarvan vir die SAID en belastingbetalers bestudeer.”

Kieswetter het belastingbetalers egter die versekering gegee dat enige Paia-aansoek vir die rekords van ʼn belastingbetaler oordeelkundig oorweeg sal word binne die raamwerk wat die Konstitusionele Hof stel.

“Ons moet waak teen enige ligsinnige misbruik van die bepalings wat deur die Konstitusionele Hof uiteengesit word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

En hier begin die “duck and dive!” Is Kieswetter ook maar net nog ‘n ANC kader?

Papsak ·

Bere hom nou en kry klaar hy moet boet vir sy dade asb wat sukkel hulle so om hom gebere te kry dit word met ons gedoen nie dadelik is jy toe gesluit wat maak hom so besonders mmm

Boatsie ·

Wys jou net hoe siek is ons stelsels.
Een Staatsinstansie (SAID) is veronderstel om ‘n ander staatsinstasie (die Hof) van inligting te voorsien om ‘n “beweerde korrupte skelm” vas te trek, maar WEIER om dit te doen.
Halllooooo mis ek iets hier?????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.