SA-rocklegende dalk aan hartaanval dood

Phil Wright. Foto: Facebook

Phil Wright (55), die voormalige radio-aanbieder en rocklegende wat dood in sy huis in Johannesburg aangetref is, het moontlik ‘n hartaanval gehad. Die moontlikheid bestaan ook dat hy dalk in sy badkamer gegly en sy nek gebreek het.

Leon Economides, ʼn vriend en voormalige kollega, het aan Sapa gesê Wright was Sondag vir die laaste keer gesien toe hy saam met vriende gekuier het. Hy het egter siek gevoel en vroeg huis toe gegaan.

“Sy vriende kon hom Maandag nie in die hande kry nie en is Dinsdag na sy huis toe. Hulle het gehoor sy hond blaf binne die huis. Hulle het sy kombuisdeur oopgebreek en sy liggaam in die badkamer gevind,” het Economides gesê.

Brian Oxley, ʼn voormalige kollega, het Woensdagoggend aan 567 CapeTalk gesê dat hy moontlik in sy badkamer gegly en sy nek gebreek het.

Economides sê egter ʼn nadoodse ondersoek sal gedoen word om die presiese oorsaak van sy dood te bepaal.

Wright het as ʼn klankingenieur by Radio RSA begin werk. Hy is later na 5FM (die destydse Radio 5) waar hy as aanbieder gewerk het. Barney Simon, nou ʼn aanbieder by Jacaranda FM, het hom destyds die bynaam “Metalhead” gegee. Wright was baie lief vir reptiele en wou altyd ʼn veearts geword het. Hy het by die Transvaalse slangpark gewerk toe 5FM destyds van strategie verander het. Wright het ook vir die televisieprogram Top Billing as ‘n stemkunstenaar gewerk.

Oppikoppi het Woensdag op Facebook gesê: “Oppikoppi legend Phil Wright has crossed over to the larger herd. We will meet you there Phil, and watch out for the snakes so long.” [Die legende Phil Wright het die oorgang na die groter trop gemaak. Ons sal jou weer daar ontmoet, en sorg solank mooi vir die slange.]

Woodstock SA en die platejoggie, Jon Savage, het ook hul medelye op sosiale media betoon.

Lees ook:
SA-rocklegende sterf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.