SA se laer geboortekoers: Die implikasies

Die gehalteblad Business Day het onlangs berig dat die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) bevind het dat Suid-Afrika se bevolkingsgroei teen 2040 onder die vervangingsvlak – naamlik 2,1 kinders per vrou – sal daal. Hierdie tendens is interessant en insgelyks moeilik om te glo, aangesien Suid-Afrika in die algemeen tans ʼn jong bevolking het. Dit het egter verskeie implikasies vir die politieke en maatskaplike toneel en ekonomiese welstand van die land en ek gaan vlugtig ʼn paar hier aanraak.

Die Instituut maak tereg melding van die feit dat dit Suid-Afrika se werksmag gaan laat krimp. In ʼn land met ʼn huidige werkloosheidskoers van sowat 25% (amptelik) en 40% (volgens die breë definisie) is dit moeilik om te glo, maar hierdie projeksies moet tog ernstig opgeneem word. Maar dit laat die vraag ontstaan: Hoekom gaan ʼn ontwikkelende land soos Suid-Afrika se bevolking krimp te midde van bevolkingsontploffings in die res van die ontwikkelende wêreld en ʼn wêreld wat met 1 miljard mense binne 11 jaar gegroei het? Die antwoord moet by die huidige tendense in die ryk lande gesoek word.

In Japan en Italië word daar tans slegs 1,1 kinders per vrou gebore terwyl dit 1,8 vir Duitsland is. Dit is als onder die vervangingsvlak. Met die voortgesette ekonomiese voorspoed in hierdie lande, tesame met groot die emansipering van vroue om loopbane na te jaag, het gesinne gekrimp omdat ouers net nie meer na ses kinders kan kyk nie. ‘n Sprekende voorbeeld hiervan is die fliek, I don’t know how she does it, met Sarah Jessica Parker in die hoofrol. Ek raai enige besige ma om hierdie fliek te sien want dit vertel die storie van ʼn baie besige Amerikaanse vrou wat ʼn beleggingsbestuurder is en die heeltyd vir werk oor die hele Amerika moet vlieg en haar kinders se lewens misloop. Dit is bedoel as ʼn komedie (wat dit wel is!), maar dit vertel ook die tragiese verhaal van (meestal wit) vroue wat ʼn loopbaan, huwelik en ma-wees gelyktydig probeer najaag en nie altyd suksesvol is nie. Mense wil derhalwe later met gesinne begin, kies hul loopbane bo ouerskap, en wil hul vriende beïndruk met ʼn nuwe motor eerder as om vir kinders te betaal. Partykeer is mense net bloot selfsugtig.

Vergelyk hierdie toedrag van sake met lande soos Nigerië, Pakistan, Indië en Indonesië en die kontras raak selfs meer strak. In hierdie lande word daar tussen 4 en 6,5 kinders per vrou gebore. Sulke samelewings is gewoonlik baie patriargaal met vroue wat verbied word om te werk of waar daar net nie werk vir almal is nie en die gewone mediese dienste en middele (soos voorbehoedmiddels) is nie geredelik nie, of glad nie, beskikbaar nie. Bring mens hierdie twee tendense bymekaar en jy kry ʼn toekoms-vooruitskouing van wat in Suid-Afrika gaan gebeur. Enersyds gaan die swart bevolking voortgaan om gaandeweg middelklas te word met heelwat swart vroue wat in die werksplek gaan inskuif. Laasgenoemde moet met ope arms verwelkom word want dit beteken meer mense wat belasting gaan betaal en dus ʼn kleiner las op die aanvanklik poel betalers. Meer mense gaan ook aan die sogenaamde kennis-ekonomie begin deelneem met hul beter vaardighede en gevorderde tegnologie en toegang tot inligting. Die plaaslike ekonomie sal derhalwe die struktuur van ʼn ontwikkelde land begin aanneem met minder mense wat werksaam is in die landbousektor en meer in dienste en beter besoldigde sektore waar kennis die drywer is.

Daar is ook egter nadele hieraan verbonde. Die lewendes gaan beter lewe en in die algemeen beter presteer, maar ons bevolking gaan ook sieker en kleiner raak en dit hou niks goeds vir die ekonomie in nie. Eerstens gaan MIV/Vigs ʼn reuse tol begin eis. Die Instituut vir Toekomsnavorsing voorspel dat ons bevolking 77,5 miljoen teen 2040 sou bereik as dit nie vir hierdie pandemie was nie, maar nou gaan dit teen 2017 ʼn hoogtepunt van 53 miljoen bereik en daarna afplat tot by 50 miljoen teen 2040. Dus, terwyl ʼn land soos Indië na verwagting teen 2050 die grootste bevolking ter wêreld gaan hê met 1,41 miljard mense (selfs groter as Sjina waar die bevolking ook gaan verouder en krimp) en miljoene jong Indiërs die arbeidsmark gaan betree en tegnologiese produkte koop, kan ons ʼn kleiner, sieker en ouer bevolking te wagte wees.

Die SAIRV se navorser vir die jongste data, Thuthukani Ndebele, maak melding van die feit dat waar mense bo 65 tans slegs 5% van die bevolking uitmaak, dit gaan toeneem tot 12% in 2040. Eweneens gaan die groep onder 15 met 21% krimp. Dit hou twee ekonomiese implikasies in. Eerstens sal daar ʼn groter hoeveelheid ouer mense wees wat vermoedelik heelwat langer gaan lewe en dit gaan geld kos en ʼn bykomende las op die belastingbetaler wees. In Japan is hierdie situasie so erg dat daar slegs twee werkende persone vir een persoon bo 65 in 2025 gaan wees. Die dilemma is dus: Met minder verpleegsters en meer ouer pensioentrekkers, wie gaan vir gaan vir hulle sorg? Dit is ʼn ope vraag wat nog nie ʼn duidelike antwoord het nie, maar ons is nog nie by die fase waar ons, soos in Japan, robotte kan bekostig om na die oueres te kyk nie.

Tweedens gaan daar meer geld aan onderwys en gesondheid bestee moet word met minder jong mense wat die werksmag betree. Suid-Afrika het tans ʼn gemiddelde lewensverwagting van rondom 48 met swart mans wat op 53 staan en swart vroue op 43. Die blankes en Indiërs staan sʼn is veel hoër op tussen 70 en 78. Dus gaan ʼn klomp mense siek wees teen 2040 en behandeling in hospitale verlang. Terselfdertyd sal so ʼn groot eis deur ʼn teenprestasie deur die ekonomie vervul moet word. Met baie arm swart mense wat jonk of middeljarig doodgaan en in die toekoms gaan sterf, sal dit hoër belastings op die veelkleurige middelklasse verg om hierdie tendens te bestuur. As mense siek is, werk hulle helaas nie en is dan boonop ʼn las op ander. Die gesondes sal beter opgelei moet wees en die staat sal meer (belasting)geld daaraan moet bestee. Meer verbruikers van duur gesondheidsorg deur die staat en ook min werkers sal aan die orde van die dag wees.

Met Suid-Afrika se demografie, hou hierdie patrone en vooruitskouinge ook natuurlik politieke implikasies in. Die ANC trek sy steun tans oorweldigend uit arm, swart gemeenskappe en veral die arm, swart jeug. Hierdie groep is feitlik strykdeur van maatskaplike toelaes afhanklik, maklik omkoopbaar voor verkiesings en meestal naïef oor die politiek. Mens kan terselfdertyd met alle sekerheid sê die groei onder middelklas-vroue wat die werksplek gaan betree, gaan grotendeels onder die swart bevolking plaasvind gegewe die lae grondslag waarvandaan dit styg en die voorrang wat polities daaraan verleen word. Wit vroue is buitendien vir ʼn geruime tyd klaar geëmansipeer. Die 2011-munisipale verkiesing het bewys die swart middelklas, wat sy groei grootliks aan die ANC en veral oudpres. Thabo Mbeki te danke het, het nou oorwegend vir opposisiepartye begin stem, veral vir Cope maar ook vir die DA. Met ʼn groter swart middelklas en minder swart armes en veral jeugdiges sal die ANC sy strategie moet aanpas om sy meerderheid te behou. Net soos die sogenaamde nouveau riche onder die Afrikaners in die sakewêreld en ander professionele beroepe in die 60’s en 70’s begin neerkyk het op, en anders dink het as, die arm Afrikaners, so is hierdie onderskeid ook besig om in die swart gemeenskap van vandag beslag te kry – en dit gaan onverpoosd voortduur want dis menslike natuur.

Hieruit gaan ʼn situasie ontstaan waar swartes en wittes van dieselfde klasse meer geïntegreerd gaan raak en meer aanvaarbaar vir mekaar gaan word. Meer van hulle gaan saam werk, hul kinders na dieselfde middelklas-skole toe stuur en langs mekaar bly. Demografie en beter geleenthede gaan dus organies doen wat geen afgedwingde nasiebou-projek van enige Afrika-regering nog ooit kon regkry nie. Die ANC sal nie meer so maklik kan wegkom met sy belaglike rasse-drogredes, linkse beleide en swak dienslewering nie want middelklasse van alle rasse gaan hul stemme dik maak. Daarmee saam gaan daar ernstige debatte oor die haalbaarheid van regstellende aksie kom in die lig van minder jonges om te werk en die ANC se dalende steun onder die swart bevolking. In ʼn geglobaliseerde wêreld waar maatskappye belê waar hulle waarde kan kry en SA ʼn dalende arbeidsaanbod gaan hê, sal ras hopelik minder en minder begin tel met aanstellings om kritieke poste in die polisie, private sektor en staatsburokrasie te vul. Hiermee saam sal daar ʼn toename in immigrante, veral uit ander dele van Afrika, na SA wees om ons arbeidstekort te vul in die laer sektore. Die land sal dus meer divers begin raak, maar ook meer verdraagsaam soos wat immigrante en hul kinders nie dieselfde apartheidsvlek op hulle het nie en bloot wil werk en ʼn lewe maak.

Dus, om genl. Jan Smuts aan te haal: “Die ergste, soos die beste, gebeur nooit in Suid-Afrika nie.” Hierdie tendense is egter nie onafwendbaar nie en dit moet reg bestuur word om die beste resultate te verkry.

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Gemsbok ·

Die eenvoudigste en mees effektiewe manier vir die ANC om die bedreiging van ‘n groterwordende middelklas die hoof te bied, is om myne, banke en grond te nasionaliseer.

En almal het gedink Julius is dom…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.