SA se probleme het wortels én antwoorde

Suid-Afrika onder die leierskap van nie-Afrikaners

Talle tekens het die afgelope ruk begin wys dat Suid-Afrika op ‘n glypad na ‘n algehele ekonomiese malaise beweeg. Woensdag weer berig die nuusdiens Reuters dat buitelandse belegging in Suid-Afrika met 43.6% in die eerste helfte van 2012 vergeleke met die ooreenstemmende periode laas jaar gedaal het. Vir Afrika as ‘n vasteland het dit met 5% gestyg te midde van ‘n trae en ongunstige wêreldwye ekonomiese klimaat. Suid-Afrika se bruto binnelandse produk gaan met slegs 2.6% hierdie jaar groei. Hoekom is dit so?

Dit is altyd makliker om die redes uit te wys as om oplossings te soek, maar die redes vir die land se ontberinge moet eers vasgestel word voordat daar enigsins vordering gemaak kan word. Die volgende onderliggende redes stem mens tot kommer oor die toekoms:

–          ‘n Selfverrykende en selfvoldane politieke elite en ook amptenary wat hulself ten koste van die wyer bevolking verryk en daarmee die indruk skep dat politieke konneksies jou kaartjie tot sukses is. Hierdie groep het deur hul optrede gewys dat daar ‘n soort skaduweestaat begin ontstaan het waarin korrupsie en selfbegunstiging floreer. Die president self stel die mees prominente voorbeeld in hierdie opsig. Sy landgoed in sy geboortedorp van Nkandla in KwaZulu-Natal wys net weer dat hierdie elite, soos soveel vorige heersersklasse in Afrika en elders in die Derde Wêreld, nie dink die burgers sal hul uitermate swier ietwat buitengewoon vind nie.

–          Die staat is daarbenewens ononderskeibaar van die politiek. Die staatsdiens is gelaai met onbevoegde ANC-kaders en hierdie is nie ‘n onlangse Zuma-verskynsel nie. Tony Leon het onlangs gesê kaderontplooiing en die politieke voorkeur wat daaraan gegee is, was reeds sterk aanwesig in die Mandela-era. Daarbenewens het oudpres. Thabo Mbeki in sy onlangse toespraak by die Fort Hare-universiteit, waarin hy die huidige toestand van die land onder die ANC skerp gekritiseer het, ‘n bietjie selfkritiek vir homself gereserveer dat hy meer kon doen om polities-volwasse kaders op te lei. Dus is kaderontplooiing en die voorkeur aan lojaliteit bo vaardighede lank reeds ‘n ANC-tradisie, wat nou tot volwassenheid ontwikkel het onder Zuma.

–          Dan het die ANC toenemend meer outoritêr, sosialisties en sentralisties begin raak en dit is genoeg om enige belegger allergies te maak. Prof. Deon Geldenhuys, politieke wetenskaplike aan die Universiteit van Johannesburg (UJ), het die ontluikende diktatuur in Hongarye onder Viktor Orbán onder meer op die volgende manier aan Suid-Afrika onder Zuma beskryf:

Ná 1994 het Suid-Afrika vir ‘n wyle ‘n regering van nasionale eenheid gehad wat ten minste pretensies van konsensus-besluitneming gehad het. Sedertdien is die land ‘n eenvoudige meerderheidsdemokrasie wat, in die oë van sommige minderhede, neig na ‘n tirannie van die meerderheid.”

Die monopolie wat Eskom byvoorbeeld op krag en die verspreiding daarvan het (en daarom kragprysstygings na willekeur kan toepas), die ANC se transformasie-ideologie wat so slaafs deur die sake- en openbare sektore nagevolg word, die aanstel van ‘n duidelik onervare kandidaat as hoofregter, muilbandwetgewing vir die media, die groenskrif op grondhervorming wat alle grond in staatsbesit wil plaas en die politieke uitsluiting van “andersdenkende” minderhede is almal embleme van die ANC se toenemende dwingelandy. Dit smoor private inisiatief en maak die regering slegs meer selfvoldaan as wat dit tans is.

–          Cosatu. Die vakverbond met al sy sosialistiese affiliate het die definisie van onverdraagsaamheid geword. Die slagting, opstande en geweld by Marikana sowel as elders kon vermy gewees het as die Vereniging vir Mynwerkers en Konstruksie Unie (ACMU) se wettige ledewerwing en aktiwiteite nie deur die National Union of Mineworkers (NUM), wat met Cosatu geaffilieer is, met geweld begroet is nie. Cosatu se leierskorps is egter lank nie meer “werkers” nie, maar leef gerieflike middelklas-leefstyle in die voorstede en gebruik die regte werkersklas om ander vakbonde se mededinging uit te hou – selfs al kos dit menselewens. Boonop is so ‘n militante vakverbond se noue samewerking met die regerende party ‘n kommerwekkende teken vir beleggers in die land sowel as buite sy grense.

–          Rigiede arbeidswetgewing. Cosatu verkondig voortdurend die foutiewe evangelie dat jy bloot kan aanhou staak vir beter lone, sonder ‘n gelykmatige verbetering in produktiwiteit en vaardighede. Die hartseer deel is dat die land se arbeidswetgewing hierdie sieninge versterk en dit al so moeilik is om treurige werkers af te dank dat werkgewers baie skepties oor indiensstellings is. Dit beperk produktiwiteit en diskrimineer teen werkgewers. Verlore produktiwiteit is immers die rede hoekom 12 000 mynwerkers onlangs hul werk in Rustenburg verloor het.

Maar als is hoegenaamd nie verlore nie. Die land het steeds ‘n dapper en waaksame burgerlike samelewing, opposisie en media. Onthullings oor die Zuma-paleis by Nkandla, burgemeesters wat rojaal lewe terwyl hulle dorpe en stede ten grond gaan sowel as twyfelagtige swart bemagtigingstransaksies is deur grootliks te danke aan die media.

Die burgerlike samelewing se kritiek en optrede teen die ANC, wat gereeld deur die party as “rassisties” of “anti-transformasie” afgemaak word, het groot legitimiteit en gewig onder die publiek begin kry. John Kane-Berman, William Gumede, Flip Buys, Frans Cronje, Tim du Plessis, Moeletsi Mbeki en Rhoda Kadalie is maar net sommige van die openbare figure in die burgerlike samelewing wat uitgesproke jeens die ANC se vergrype is. Al wil die ANC nie luister na wat almal sê nie, gaan hulle nog op die harde manier uitvind dat hierdie stemme nie geïgnoreer kan word nie. Heelparty van hierdie mense is die mees akkurate barometers van openbare sentiment en die ANC sal uiteindelik hierdie menings by die stembus móét hoor . . . of hy wil of nie.

Eugene Brink is ‘n politieke ontleder en senior navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gemsbok ·

Goeie ontleding Eugene.

Ek wil egter kritiek teen hierdie stelling van jou uitspreek: ” Heelparty van hierdie mense is die mees akkurate barometers van openbare sentiment en die ANC sal uiteindelik hierdie menings by die stembus móét hoor . . . of hy wil of nie.”

Is hierdie stelling ‘n objektiewe waarneming van empiriese bewyse? Of is dit die soort hoop wat ‘n meisie uitspreek wat soek na ‘n kêrel maar nie een kan kry nie?

Die engiste negatiewe reaksie wat die ANC vanaf die kieserspubliek ontvang vir sy swak regering, is die vervreemding van rasse-minderhede. Die uitwerking van hierdie vervreemding is egter afgestomp deur die Zulu-steunbasis wat die ANC kon uitbrei met die vergaan van die IFP. Dit dui dus aan dat die ANC se steunbasis gegroei het onder sy teikendemografie (“black Africans in particular”) ten spyte van die stemme wat opgaan teen die ANC. Sopas het Cosatu (tot op hede die ANC se kritikus met die beste struggle-verwysings) Zuma se kandidaatskap ondersteun en dit terwyl Motlanthe ‘n vakbond-man is.

Daar is ook geen waarborg dat Suid-Afrika nog ‘n demokrasie gaan wees teen die tyd wanneer die ANC se teikendemografie gereed is om hom by die stembus te verwerp nie. Die gedeelte van die burgerlike samelewing wat veg vir die behoud van die demokrasie (deur bv die transformasie van die howe teen te staan), verteenwoordig immers diegene wat deur die vorige bedeling bevoordeel is en wat maklik deur die ANC met aanvalle soos “rassis” en “minderheid” geïgnoreer kan word, soos wat hulle reeds met die snoerwetgewing van die media gedoen het.

Ek vrees dus dat jou hoop op die stembus, ‘n hoop is wat deur Afrika verydel gaan word, en die risiko loop om jou en baie wat soos jy hoop, ontnugter en negatief te laat, wat uiteindelik tot groter emigrasie en ‘n verdere verswakking van Afrikaners se posisie in Suid-Afrika sal lei.

Self is ek egter nie pessimisties oor ons toekoms nie. My hoop is egter in die dinge wat ons wel kan beheer, eerder as dit wat buite ons beheer is.

Afrikaners besef al meer dat hulle verantwoordelik vir hul eie heil is. Sedert 1994 is baie Afrikaners gedwing om die sakewêreld te betree en is ons wat inkomste betref vandag baie meer selfvoorsienend as wat ons voor 1994 was.

Die gedagte dat dit aanvaarbaar vir Afrikaners is om aan hul eie kant te wees, is ook besig is om veld te wen want niemand anders is aan ons kant nie.

Dit lei tot selfhelporganisasies wat van krag tot krag gaan en ‘n nuwe dinamiek wat in Afrikanerpolitiek ontstaan.

Ons moet vrede maak met Afrika en terselfdertyd werk maak van die wete dat ons vir onsself verantwoordelikheid moet neem deur ons eie instellings en uiteindelik ook deur demografiese konsolidasie wat ‘n voorvereiste vir selfverwesenliking en volhoubaarheid van volke is.

Op daardie stadium sal die ANC kan doen wat hulle wil en ons sal steeds met hulle kan saamwerk en handeldryf wanneer nodig, want ons sal nie meer van hulle afhanklik wees vir ons toekoms nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.