SANParke reg vir winterbrande

‘n Beplande brand by die Satara-ruskamp. (Foto: Verskaf)

Die Krugerwildtuin het Maandag SANParke se gebeurlikheidsplanne bekend gemaak om die komende winterbrandseisoen, wat gewoonlik tussen Junie en Oktober plaasvind, te bestuur.

Winterbrande is ʼn algemene verskynsel op die grasvelde van die wildtuin, asook in die Kaapse fynbosgebied. Hoewel onbeplande brande katastrofiese gevolge kan hê, is gereelde veldbrande noodsaaklik om die ekosisteem op ʼn gesonde manier te laat voortbestaan. Met verloop van tyd het talle plantspesies afhanklik geraak daarvan.

Volgens Isaac Phaahla, woordvoerder van SANParke, sal die wildtuin voortgaan om gevorderde satelliettegnologie in te span om brande te identifiseer, te monitor en te volg.

Die park se grens, asook die kampe, personeeleenhede en toegangshekke is reeds met brandbane beveilig, terwyl veldwagters en wetenskaplikes voorbrande doen om die gevaar van toekomstige veldbrande oor groot dele van die wildtuin te verminder.

“Die wildtuin is al ongeveer ʼn dekade lank deel van die Groter Kruger-brandbeskermingsvereniging (BBV) wat kommunikasie en administratiewe ondersteuning moontlik maak wanneer dit kom by die gebruik van voorbrande as ʼn bestuursinstrument. Die BBV help ook om brandveiligheid binne en rondom die park te bevorder.”

Maande ná die beplande brand by die Satara-ruskamp. (Foto: Verskaf)

Hoewel die bestuur beplan om brande as bestuursmeganisme te gebruik, sal onbeplande brande woed solank daar genoeg gras is om dit te gelei.

“Brande word hoofsaaklik aangedryf deur die hoeveelheid gras wat beskikbaar is. Die hoeveelheid gras word bepaal deur die reënval in die voorafgaande seisoen,” sê Phaahla.

Die wildtuin het die afgelope somer ʼn buitengewone nat reënseisoen gehad wat tot groot grasvelde gelei het.

“As gevolg hiervan verwag ons baie meer veldbrande hierdie winter.”

Gewoonlik brand minder as 10% van die wildtuin elke jaar, maar weens die goeie reën sal sowat 20% van die park na verwagting brande ondervind.

“ʼn Groot deel hiervan sal beheerde brande wees wat deur veldwagters gemonitor word, maar daar sal waarskynlik ook ʼn aantal onbeplande brande deur die loop van die jaar wees. Dit sal egter bestuur word soos dit voorkom.

“Ons probeer om brande in die park proaktief te benader. Ons vertrou dat ons personeel goed opgelei en toegerus is om vanjaar se brandseisoen te bestuur,” sê Phaahla.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

marius ·

Waarom sal daar meer brande wees ? Daar is nie weerlig in die winter nie . Derhalwe kan dit net mensgemaak wees . Los die veld uit !

Tiptol ·

Mense rook en gooi stompies by die vensters uit. Weghol brande kan baie skade veroorsaak.

Andries ·

Hoe kan enigge iemand se hy is reg vir die brande niemand is en was nog ooit in beheer van natuur rampe nie wie dink hulle bu!!!!!!!it hulle

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.