Twee sekuriteitswagte is Woensdag by die hoof van die metropolisie in Durban se huis geskiet.
“Vier gewapende mans het Woensdag omstreeks 18:00 die woning van Eugene Nzama, metropolisiehoof, betree en twee sekuriteitswagte met wapens aangehou,” het kol. Vincent Mdunge, woordvoerder van die polisie, geê. Die vermeende rowers het die sekuriteitswagte se wapens afgeneem en hulle geskiet voordat hulle gevlug het. Een van die wagte is in ‘n ernstige toestand in die hospitaal. Die ander wag is in ‘n stabiele toestand.
Nzama en sy gesin was tydens die voorval nie tuis nie.
“Dit is nog nie duidelik wat die motief vir die skietery was nie, maar dit sal tydens ons ondersoek aan die lig kom,” het Mdunge bygevoeg.
Die polisie ondersoek ‘n saak van gewapende roof en poging tot moord.
Die metropolisie in Durban het onlangs daarop aangedring dat Nzama uit sy pos afgedank moet word, aangesien hulle nie met sy bestuurstyl tevrede is nie. Hy is sedert Juliemaand op spesiale verlof, en Vincent Ngubane, hoof van rampbestuur, het intussen vir hom waargeneem.