Slange bly glo in PTA-departementele gebou

Willem van Rooyen beskryf hoe hy die slange doodgemaak het Foto: Peggy Nkomo, SowetanLIVE

Twee gevaarlike slange is glo verlede week in die departement van arbeid se gebou in die middestad van Pretoria opgespoor.

Willem van Rooyen, ‘n parkeeraanwyser, by die departement se gebou op die hoek van Skinner- en Andriesstraat, het nou die dooie wyfieluislang van 2.25m en 60cm-lange rinkhals in sy besit, berig SowetanLIVE. Van Rooyen beweer hy het die slange omstreeks 04:00 die oggend doodgemaak toe hy by die departement se parkeerterrein aangekom het. Hy help mense hier om hul motors te parkeer. Hy sê die slange het van die dak van die gebou afgeval. “Toe ek daar aangekom het, het ek die slange deur ‘n gat in die gebou se dak sien val. Ek het geskrik en begin weghardloop. Maar toe ek terugkyk, het ek gesien die slange is vasgekeer en het ek hulle met klippe doodgegooi,” het Van Rooyen gesê.

Van Rooyen sê hy het die slange in ‘n plastieksak gehou om hulle te verkoop. “Ek wou hulle verkoop omdat ek nie ‘n werk het nie,” het hy gesê. Ek het ‘n koper gekry, ‘n ouerige dame, wat gesê het iemand wil die slange hê. Maar beamptes van ‘n wildreservaat het die slange gevat, en gesê mense gebruik dit om muti te maak wat ander mense doodmaak.”

Van Rooyen sê hy het in KwaZulu-Natal by ‘n slangpark gewerk en weet hoe om slange dood te maak. “Dit is algemene kennis dat slange in die winter hiberneer wanneer die wyfies eiers lê. Nou is dit lente, en kom hulle uit kom kos te kry. Ek sê vir jou, daar is nog slange in daai gebou,” het Van Rooyen bygevoeg.

Mishack Magakwane, woordvoerder van die departement van arbeid, het Van Rooyen se bewerings afgemaak. Hy sê Van Rooyen moes die slange iewers anders gekry het. Hy sê die gebou het Dinsdag ‘n probleem met verstopte toilette gehad. “Ons het die departement van openbare werke gekontak en hulle het die probleem opgelos. Hulle sou die slange gesien het,” het Magakwane verduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.