ʼn Polisiewoordvoerder, ao. Gerda Swart, sê Garreth en Jo-Ann Muller, albei 22, is Vrydagoggend laas gesien toe hulle by Garreth se pa se huis gestop het. Swart sê Garreth het aan sy pa gesê dat hulle na ʼn woonstel in Strelitzia Park wil gaan kyk om dit moontlik te huur. Familielede kon die paartjie, wat reeds drie jaar getroud is, sedertdien nie kontak nie. Swart sê die polisie het intussen vasgestel dat die paartjie die motor waarin hul gery het, ʼn donkergrys Volkswagen CitiGolf Sonic, dieselfde dag van hul verdwyning aan ʼn man buite die dorp verkoop het. “Die man wat die motor by hul gekoop het, het ʼn berig in ʼn koerant gelees oor hul verdwyning en agtergekom hy het die motor by hulle gekoop. Hy het die polisie gekontak.” Sy sê die motor behoort aan ʼn familielid. Swart sê die paartjie se gesinne is “rasend van bekommernis.”
Garreth het ʼn mosterdkleurige hemp en ʼn donker denimbroek met wit tekkies aangehad op die dag sy verdwyning. Hy is sowat 1,78m lank en het donker hare. Dit is nie duidelik wat Jo-Ann aangehad het op die dag van hul verdwyning nie. Sy is sowat 1,65m lank en het donkerbruin/swart hare. Sy het ʼn tatoeëermerk van ʼn vlinder op haar regter enkel.
Enigiemand met inligting kan ao. Wilfred Swartbooi kontak by 083 533 3776.