Die Solidariteit Beweging het Donderdag ʼn nuwe Afrikaanse hoëronderwysinstelling, Akademia, bekendgestel.
Die Solidariteit Beweging sê Akademia skop vanjaar af met vier onderrigprogramme (drie sertifikate en ʼn diploma) en kan so vroeg soos volgende jaar sy eerste graad aanbied. Akademia gaan danksy die nuutste telematiese tegnologie interaktiewe klasse regoor Suid-Afrika by verskeie leersentrums aanbied. Die instelling beplan om binne vyf jaar studiesentrums in elke groot sentrum in die land te vestig en om aan die einde van die vyf jaar 10 000 ingeskrewe studente oor ʼn wye spektrum van studierigtings te hê.
Volgens Flip Buys, uitvoerende hoof van die Solidariteit Beweging, het die aanbod vir Afrikaanse hoër onderwys die afgelope 20 jaar drasties gekrimp. “Van die sowat 10 Afrikaanse technikons en 150 Afrikaanse beroepskolleges wat voor 1990 bestaan het, het daar nie ʼn enkele Afrikaanse technikon of Afrikaanse enkelmedium-kollege oorgebly nie. Ons wil deur Akademia weer aan Afrikaanse studente toegang tot hoër onderwys van goeie gehalte in hulle moedertaal gee,” sê Buys. “Hierdie instelling gaan op die vlak van universiteite funksioneer,”
Akademia se eerste leersentrums is reeds in Centurion, Pretoria-Moot, Vanderbijlpark, op die Oos-Rand en Wes-Rand en in die Wes-Kaap ingerig.
Studente wat inligting oor registrasie wil bekom, kan www.akademia.ac.za besoek of 0861 222 888 skakel.