Sowat 100 studente aan die Universiteit van Limpopo se Mankweng-kampus het vroeër vandag reg in eie hande geneem en op agt vermeende rowers toegesak na dié glo ʼn student se selfoon gesteel het.
Volgens konstabel Moses Molepo, polisiewoordvoerder, het die voorval in die vroeë oggendure plaasgevind.
“Die studente het die verdagtes vasgetrek en erg aangerand. Die verdagtes is met stokke, stene en ander wapens aangeval.”
Molepo het gesê drie van die rowers het weggekom maar is later deur die polisie buite die kampus in hegtenis geneem. Die ander vyf het erge beserings opgedoen.
“Die studente het ook ʼn ambulans wat die verdagtes bygestaan het, met klippe gegooi. Gelukkig is geen paramedici beseer nie. Hulle het ook ʼn venster van die kampuskantoor gebreek.”
Die beseerde rowers is onder polisiebewaking in ʼn naby geleë hospitaal. ʼn Saak van kwaadwillige beskadiging van eiendom word ondersoek. Niemand is sover in hegtenis geneem nie.
“Ons doen ʼn beroep op die publiek om nie die reg in eie hande te neem nie,” het Molepo gesê.
– Sapa