Super15: ’n Naweek van trane, ekstase en opwinding wat wag!

Hierdie naweek is waarvoor rugbyliefhebbers (en veral Bulls-ondersteuners) die heel jaar al wag.

Dit kan ekstase veroorsaak (soos in die geval van die Brumbies die afgelope naweek) of in trane eindig (soos vir die Cheetahs), maar een ding staan vas: Louwarm sal ons nie gelaat word nie. Voordat ek al die naweek se aksie in oënskou neem, kom ons kyk kortliks eers wat het laas naweek gebeur – en bespiegel oor wat moes gebeur het.

Die eerste uitspeelwedstryd tussen die Crusaders en Reds was ’n voorspelbare affêre met die kenners en leke wat almal die Christchurch-brigade vooraf gekies het om te seëvier. En dit het hulle met onderskeiding gedoen. Kan mens minder verwag van ’n span wat gevul is met All Black-spelers in talle sleutelposisies en ’n skopvoet soos Dan Carter s’n? Dan was daar nog ook die tuisveldvoordeel en die All Black-kaptein Richie McCaw wat sy 2013 Super15-buiging van die plaasvervangersbank af gemaak het.

Ewenwel, die Crusaders het hul Queensland-teenstanders met 38-9 afgeransel met ’n uiters kliniese en verwoestende vertoning. Carter het 20 van sy span se punte via skoppe en ’n drie aangeteken terwyl die senter Ryan Crotty twee drieë gedruk het en Tom Marshall een. Die Saders se ondersteunende spel is onverbeterlik met feitlik elke aangee wat maar blindelings gegooi kan word en verseker van ’n vanger op volle vaart sal wees. Die telling het ook die praatwerk gedoen sover dit hul verdediging betref. Die Reds se enigste punte het gekom via Quade Cooper, wat die Canterbury-skare se antagonisme deurgaans moes verduur, se skopvoet. Terwyl dit altyd onwaarskynlik is dat die Reds ooit hul 2011 eindstryd-oorwinning oor die Saders sou herhaal, moet daar in hul verdediging gesê word dat baie van hul Wallaby-spelers tam lyk ná die reeks teen die Britse en Ierse Leeus. ’n Bietjie rus en introspeksie voor die Rugbykampioenskap sal nie skade doen nie. Dit was ook Ewan McKenzie se swanesang as afrigter van die Reds. Hy gaan nou die Wallabies brei en die Reds se kort vlaag van sukses kan straks tot ’n einde kom as ’n ander afrigter hulle volgende jaar begin brei.

Doer Onder het die Cheetahs Sondagoggend op ’n hartverskeurende wyse teen die Brumbies verloor toe Riaan Smit ’n doelskop in die doodsnikke in die paal vasgeskop het. Hulle het toe met 15-13 verloor. Dis ironies dat die Blikore teen Australiese opposisie uitgeknikker is aangesien hulle die Aussies laat les opsê het vanjaar. Smit het egter twee ander skoppe ook gemis terwyl die Brumbies se Christian Leali’ifano ook ’n powere skopdag gehad het. Terwyl die Vrystaters twee pragdrieë deur middel van Johann Sadie en Rayno Benjamin gedruk het, het die Brumbies feitlik elke faset van die wedstryd oorheers, veral die balbesit en gebiedsvoordeel. Hierdie Brumbies-span was dus omtrent 10-15% beter op die dag as die Cheetahs. Nietemin het die skeidsregter, Glen Jackson, die Cheetahs ’n paar keer onregmatig gestraf. Een so ’n strafskop, wat teen Heinrich Brüssow toegestaan is oor hy skynbaar twee keer na die bal getas het terwyl dit duidelik nie die geval was nie, is deur Leali’ifano in drie punte omskep en het dus die uitslag regstreeks bepaal. My beskeie mening is dat skeidsregters ook gestraf behoort te word vir sulke beslissings.

Maar dit beteken nou niks vir hierdie naweek se halfeindstryd op Loftus nie. Die Brumbies het met hul sege oor die Cheetahs hul kaartjie bespreek vir die onbenydenswaardige toer na Loftus Versfeld om die Bulls te pak. Beide spanne het faktore wat hulle bevoordeel en benadeel in hierdie kragmeting. Die Brumbies se harde wedstryd teen die Cheetahs kon hulle dalk te moeg gemaak het vir ’n stryd teen die Bulle se massiewe voorspelers en opwindende agterlyn. Maar andersyds kon dit hulle dalk ook daarvoor voorberei en die nodige selfvertroue gee wat die Reds nie voor of ná die stryd teen die Saders gehad het nie. Maar hulle moet duisende kilometers reis . . . na die Hoëveld . . . se dun en droë lug . . . en duisende fanatiese Bulls-ondersteuners.

Die Bulls sal hopelik heelwat aan sekere aspekte van hul spel geskaaf het in die twee weke wat hulle af was. Hulle het lusteloos en verbeeldingloos gelyk teen die Stormers en sal baie moet verbeter as hulle vir Ben Mowen en Kie. wil troef. Hulle het ook hul gereelde kaptein, Pierre Spies, weens ’n besering verloor en vir Juandré Kruger, wat nou in Frankryk sy heil gaan soek het. Dus gaan hul lynstane, wat een van hul sterkpunte was hierdie seisoen, straks groot gebreke toon. Daarbenewens sal hulle hopelik ook hul skrumwerk opgeknap het met die stutte Dean Greyling en Werner Kruger wat beide hierdie jaar harde bene gekou en heelwat strafskoppe afgestaan het. Jake White weet dit en sal die Wallaby-stut Ben Alexander met groot vrug inspan in hierdie area. Maar ons sal moet wag vir die wedstryd om te sien wie gaan wie ore aansit in hierdie faset want die Bulls het ook nie nét gesukkel in die skrums hierdie seisoen nie.

Die Bulls se groot voordele sluit in Morné Steyn se sekure skopvoet, Fort Loftus en dan natuurlik talle Bokke wat terugkeer ná beserings. Francois Hougaard, Jan Serfontein en Flip van der Merwe sal ongetwyfeld woema verskaf aan ’n Bulls-span wat sonder hulle gesukkel het teen die Stormers. JJ Engelbrecht se senterkombinasie met Francois Venter was net nie van dieselfde gehalte as die een met Jan nie en daarom sal JJ se spelpeil ook gelig word deur Jan se insluiting. Hoewel Loftus ’n uitstekende bondgenoot vir die Bulls is, is die kaartjieverkope vir hierdie wedstryd egter gebrekkig met sowat 20 000 sitplekke wat nog oor is. Ondanks die feit dat sulke trae kaartjieverkope waarskynlik toegeskryf kan word aan die ondersteuners wat dink dis ’n uitgemaakte saak dat die Bulls die Brumbies gaan klop en hul geld vir ’n tuiseindstryd hou, kan minder toeskouers dalk net ’n demper op die Bulls se spel plaas. Dit kan ook so wees dat die Chiefs die Crusaders klop en die Bulls Hamilton toe moet reis vir die eindstryd. Dit is daarom belangrik dat die lojale Loftus-skare hul span gaan ondersteun hierdie naweek.

Die “stiefkind” van hierdie naweek se rugby is die promosie/relegasie wedstryd tussen die Kings en die Leeus. Die Leeus het hierdie jaar groot sukses teen sterk opposisie gehad toe hulle Samoa afgeransel en die Sharks se “byna volsterkte” Super15-span geklop het. Die Kings se Super15-veldtog het belowend begin maar teen die einde lelik ontspoor. Maar die Kings is week na week teen van die beste opposisie in die wêreld getoets terwyl die Leeus meestal teen mindere spanne gespeel het (met respek gesê!). Hierdie “toetse” kon die Kings dalk beter voorberei het op hierdie wedstryd. Nietemin is Johan Ackerman se span honger en met Elton Jantjies, wat ’n bra middelmatige seisoen by die Stormers gehad het, terug in die beginspan, kan hulle dalk die hardste brul. Laat rugby net seëvier.

Geniet die rugby!

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Hoofnuus, Nuus, Rugby

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae