ʼn Swanger vrou moes Woensdagoggend dringend van Robbeneiland na Kaapstad vervoer word nadat sy op die eiland in kraam gegaan het, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gesê.
“ʼn Boot met ʼn paramedikus aan boord is omstreeks 03:00 ontbied om die 35-jarige vrou, wat ʼn werknemer op die eiland is, te gaan haal,” het Craig Lambinon, woordvoerder vir die NSRI, gesê. “Sy is met die Spirit of Vodacom-reddingsboot na Kaapstad vervoer en by die New Somerset-hospitaal opgeneem.”
Dit is Noxolo Adaonis, van Delft in Kaapstad, se vierde kind. Personeel by die hospitaal het bevestig dat Noxolo om 09:00 steeds in kraam was en dat dit goed gaan met ma en baba.