ʼn Man is dood en een ernstig beseer nadat ʼn vragmotor Woensdagoggend op die N3-deurpad naby Mooirivier omgeslaan het.
Chris Botha, ʼn woordvoerder van Netcare911, sê die oorsaak van die ongeluk is nog onbekend. “Paramedici het die vragmotor op sy dak aan die kant van die pad aangetref. Die passasier was in die wrak vasgekeer en die bestuurder het buite die vragmotor gelê. Die passasier moes uit die wrak gesny word en is op die toneel dood verklaar,” het Botha gesê.
Die bestuurder is gestabiliseer en na ʼn hospitaal in Pietermaritzburg geneem vir verdere behandeling.