Twee mans is doodgeskiet terwyl munisipale beamptes onwettige kragverbindings in ʼn informele nedersetting probeer ontkoppel het, berig die Sunday Tribune.
Volgens die koerant is Malizo Fakaza en Nhlanhla Mkhize doodgeskiet toe daar gevegte tussen amptenare van die eThekwini-munisipaliteit en inwoners van die New Germany-informele nedersetting, naby Reservoir Hills in Durban, uitgebreek het. Volgens die berig is nege mense, insluitend Fakaza en Mkhize, deur veiligheidswagte geskiet. Die veiligheidswagte het die munisipale amptenare vergesel om die onwettige kragverbindings te ontkoppel. Daar is glo krag “getap” van ʼn nabygeleë skool en vulstasies. Volgens die berig het die polisie nege veiligheidswagte in hegtenis geneem en op hul vuurwapens beslag gelê. Hulle word van moord en poging tot moord aangekla.