Medupe Simasuku, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê die saak teen Tshepo Mosai en Godfrey Moseki is uitgestel. Mosai en Moseki, wat Saterdag in hegtenis geneem is, sal weer Maandag in die hof verskyn. Die ander twee verdagtes in die saak Isaac Vele en Nditshenidanelu Nefalolidu het Donderdag in die hof verskyn en sal ook weer Maandag saam met die ander twee verdagtes verskyn. Die vier verdagtes sal na verwagting dan om borg aansoek doen. Brig. Neville Malila, woordvoerder van die polisie, sê die saak is steeds in ʼn sensitiewe stadium.
Maswanganyi se lyk is op 17 Junie in ʼn veld naby Hammanskraal, noord van Pretoria, gevind. Sy hande en voete was vasgebind. Maswanganyi se bakkie is langs die R101 gevind. Die nadoodse ondersoek is intussen afgehandel maar die uitslag daarvan sal eers tydens die moordverhoor bekend gemaak word.