Twee vas ná driedubbele moord op Nuwejaarsdag

(Argieffoto: Hansie Linde)

Twee verdagtes wat daarvan verdink word dat hulle betrokke was by ʼn driedubbele moord in Gugulethu op Nuwejaarsdag, is agter tralies.

Die polisie in die Wes-Kaap het Woensdag bevestig die twee verdagtes, onderskeidelik 26 en 36 jaar oud, sal Vrydag in die Athlone-landdroshof op aanklag van moord en poging tot moord verskyn. Albei is Woensdagoggend onderskeidelik in Goodwood en Blue Downs in hegtenis geneem.

ʼn Derde verdagte word nog gesoek vir die skietery waarin drie mense dood en nog een gewond is.

Volgens die polisie was die slagoffers in ʼn voertuig en op die punt om iemand in die NY 137-gedeelte van Gugulethu af te laai, toe ʼn tweede voertuig glo opgedaag en op hulle voertuig losgebrand het.

Polisiespeurders het op intelligensie oor die voorval gereageer en só die vermeende skieters opgespoor.

Dit is onduidelik of iets tydens die voorval gesteel is en die motief vir die moorde word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.