Twee mans is in hegtenis geneem vir die martelmoord op Gary Smith (44) en Karen Buchanan (46), ʼn broer en suster van Johannesburg. Hulle was glo vriende van die slagoffers.
Smith en Buchanan is in Maart 2008 in hul huis in Northcliff vermoor. Hulle is vasgebind, hul tande is uitgetrek en veerpyltjies is na hulle gegooi, voor hulle in die kop geskiet is, berig The Star.
Die slagoffers se huishulp het aan die koerant gesê sy was geskok toe sy die name van die verdagtes gehoor het. “Die verdagtes was Smith en Buchanan se vriende. Hulle was die dag ná die moord by die huis. Hulle het gehuil en medelye betoon,” het die huishulp gesê.
Die verdagtes, wat glo twee weke gelede in Durban en Mbombela in hegtenis geneem is, verskyn Donderdag in die Johannesburgse landdroshof op aanklagte van moord.
– Sapa