Die uitgewer van die publikasie Pomp, Hendrik Venter, is Dinsdagoggend aan vermoedelik ʼn hartaanval dood.
Pomp het die nuus op sy Facebook-blad bekendgemaak. Talle mense het ook hulde gebring aan Venter op dié blad. Pomp het verlede jaar nuus gemaak nadat ʼn naakte vrou op die publikasie se voorblad verskyn het en deur talle as pornografie beskryf is. Venter het egter teruggekap en gesê dit beeld eerder die emansipasie van die Afrikanervrou uit. Pomp word op sy webtuiste beskryf as ʼn “opwindende titel in die Afrikaanse mark” wat Suid-Afrikaners bekendstel “aan die konsep van ’n uitsonderlike kuns- en kultuurjoernaal. Die visueel-prikkelende inhoud bestaan uit uitnemende foto-joernalistieke elemente en ondersteun daardeur die gesaghebbende seksionele snit wat dit maak deur die verskillende genres van die Suid-Afrikaanse kuns- en kultuurlandskap: skone kuns, fotografie, beeldhouwerk, argitektuur, leefstyl, reis, kos en wyn en vele meer.” Die 12de uitgawe van Pomp is binnekort beskikbaar.