US-professor is nuwe voorsitter van SAAWK-raad

Prof. Ilse Feinauer, voorsitter van die Akademieraad vir die termyn 2023 tot 2026. (Foto: SA Akademie vir Wetenskap en Kuns/Facebook)

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) het Donderdag tydens die algemene jaarvergadering ʼn nuwe Akademieraad vir die termyn van 2023 tot 2026 aangekondig.

Ilse Feinauer, professor in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch (US), is as die voorsitter aangewys en Leopoldt van Huyssteen as die ondervoorsitter.

Feinauer, wat die leisels by die uittredende voorsitter, proff. Oppel Greef, oorneem, beklee die Ton en Anet Vosloo-Leerstoel in Afrikaanse Taalpraktyk by die US, waar sy ook ʼn dosent in Afrikaanse taalkunde en Vertaalteorie en -praktyk is.

Die Akademieraad is saamgestel uit persone wat twee akademiese velde, naamlik Natuurwetenskap en Tegnologie en Kuns en Geesteswetenskappe, verteenwoordig.

In die Fakulteit Natuurwetenskappe en Tegnologie is die volgende persone vir die nuwe termyn verkies: proff. Marena Manley (suidelike provinsies), Rialet Pieters (sentrale provinsies), Ewert Kleynhans (sentrale provinsies), Rudi Pretorius (noordelike provinsies), Laurette Pretorius (noordelike provinsies) en Hannes Rautenbach (hoofredakteur van die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, en volle Raadslid).

Raadslede wat in die Fakulteit Kuns en Geesteswetenskappe verkies is, is proff. André Duvenhage (sentrale provinsies) en Ina Wolfaardt-Gräbe (hoofredakteur van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe), drs. Donovan Lawrence (suidelike provinsies), Conrad Steenkamp (suidelike provinsies), Jaco Deacon (sentrale provinsies) en Lindie Koorts (noordelike provinsies), en Rudolph Botha (voorsitter van die oudit- en risikobestuurkomitee).

Prof. Oppel Greeff, uitredende voorsitter van die Akademieraad. (Foto: noodhulpliga.co.za)

Greeff het tydens sy uittreerede gesê dit is wonderlik om met ʼn uitsonderlike instelling soos die SAAWK geassosieer te word, wat ʼn noemenswaardige bydrae tot die akademiese veld lewer. Hy het ook die integriteit en toewyding van die SAAWK se gemeenskap uitgesonder.

Hy het kortliks na verskeie projekte verwys wat in sy termyn van stapel gestuur is en wat nog in die proses is om afgehandel te word. Hy het ook ʼn beroep gedoen op die bevordering van Afrikaanse wetenskaplike vaktaal in die natuurwetenskappe en hy sê daar is ʼn groter bewusmaking oor die werk en bydrae van die SAAWK nodig.

“As ʼn mens net oor die afgelope jaar se aktiwiteite terugkyk, dan besef ʼn mens opnuut hoeveel wonderlike werk daar deur lede van die SAAWK gedoen word. Dit verteenwoordig ʼn groot verskeidenheid projekte en navorsing van hoë gehalte.”

Die aankondiging van die nuwe raad het ook die SAAWK se jaarlikse simposium ingelui. Vanjaar het ʼn verskeidenheid sprekers referate gelewer wat verband hou met die tema “Volhoubare menslike welstand in Suid-Afrika”. Die simposium is by die SAAWK se kantoor in Pretoria aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco ·

Wat dan nou van regstellende aksie en BEE? Haar ras pla my nie, maar in dié simpel rassistiese anti-wit SA moet wit mense mos altyd eers toestemming vra vir goed wat normaal is in ander lande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.