‘Vat grond van wittes’, MRK ondersoek

Die Mensregtekommissie (MRK) sê hy sal Phatekile Holomisa, voorsitter van die kongres vir tradisionele leiers (Contralesa), ondersoek nadat hy glo gesê het dat Suid-Afrikaners grond van wittes moet terugeis.

Isaan Mangena, woordvoerder van die kommissie, sê die Afrikanerbond het ʼn klag teen Holomisa gelê. Mangena sê die saak is onder hulle aandag gebring en dat hulle dit ondersoek. Holomisa het glo die uitlatings gemaak tydens die McGregor Mgolombana gedenklesing in die Oos-Kaap waarna die SABC daaroor berig het. Volgens die berig van die SABC, het Holomisa gesê grond is nie van swart mense gekoop as dit onder dwang deur wit mense afgeneem is nie. “Ons moet onsself volgende jaar voorberei vir ‘n stryd vir grondhervorming sodat ons nie meer situasies het waar 87% van grond in blankes se besit is en 13% deur swart mense beset word nie,” het Holomisa glo gesê. Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond, sê Holomisa se uitlatings is aanhitsing tot geweld. Bosman sê sy uitlatings is ook verkondiging van haat aangesien hy verwys het na ras. Holomisa sê die staat het nie die geld om grond terug te koop van wit mense en dit onder swart mense te verdeel nie. Hy het bygevoeg dat elke swart mens geregtig is op ‘n stuk grond sodat individue huise kan bou en kos vir hul families kan produseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.