Veiligheid vir Musk se pa in SA glo opgeskerp

Elon Musk. (Foto: Patrick Pleul/POOL/AFP)

Elon Musk is klaarblyklik bekommerd dat hy of een van sy geliefdes teen ʼn losprys ontvoer sal word. Soveel so dat hy die veiligheid by sy pa se huis in Langebaan opgeskerp en homself glo met lyfwagte omring het.

Die miljardêr se afgetrede pa, Errol, het aan The US Sun gesê dat sy seun van die beste beskermingstelsels by sy huis laat installeer het. Dit kom ná onlangse “bedreigings” wat glo tot Elon en sy geliefdes gerig is.

Elon het verlede week op Twitter gesê dat mense wat sy reisplanne op sosiale media plaas, of plaas waar hy op enige gegewe oomblik homself bevind, “ʼn sekuriteitskwessie” veroorsaak.

Hy het ook reeds van die Twitter-rekeninge wat dié soort plasings maak, opgeskort en beplan regstappe teen die stigter van ʼn Twitter-rekening wat sy private straler se beweging naspoor.

Die stappe is gedoen nadat Elon se seun glo in gevaar gestel is toe ʼn persoon die motor waarin hy vervoer word, agtervolg en voorgekeer het.

Hy het ook voorheen gespot dat sy besluit om Twitter oor te koop “nie my lewensverwagting sal verhoog nie”. Duisende oudwerkers van Twitter is boonop suur nadat hy skielik afgedank is en het intussen ʼn hofsaak ingedien oor die afleggings.

Die 76-jarige Errol vertel ná die onlangse dreigemente teen Elon het hy besluit om hom die nodige veiligheidsmaatreëls te bied. Errol se huis is intussen met ʼn kringtelevisiestelsel, elektriese omheining en 24-uur gewapende wagte toegerus.

“Dit het alles wat ek nodig het, insluitend ʼn kragopwekker, so die stelsel werk heeltyd, of daar beurtkrag is of nie.”

Elon Musk se pa, Errol, by sy huis in Langebaan in die Wes-Kaap. (Foto: Gianluigi Guercia / AFP)

Volgens Errol kan hy ook deur sy selfoon toegang tot die sowat nege kameras om sy huis kry. Die veiligheidsmaatskappy waarvan hulle gebruik maak, kom loer ook gereeld by hom in, veral as daar vreemde motors in die gebied is.

Errol erken dat die sekuriteitsopgraderings nodig was nadat hy verlede jaar vier inbrake by sy huis gehad het.

“Ek is nie bang nie, maar ek is bekommerd dat iets met Elon kan gebeur, al het hy iets soos 100 veiligheidswagte rondom hom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Pierre ·

Die lewe van ryk en bekend wees, die geheim le daar in om ryk en onbekend te wees.

Leon ·

Ek het oor Desember van ‘n spul inwoners in Langebaan verneem dat inbrake baie toegeneem het.

Andre ·

Dit maak nie saak of hy ryk is nie, dit bly sy pa en hy wil hom beskerm.

Miena ·

Die 2e storie wat ek lees vandag wat met geld te doene het… ek se weereens : Geld wat stom is…

Hennie ·

4 inbrake in n jaar? Net gewone kriminaliteit onder die ANC regering

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.