Veldtog wil Afrikaans se 100ste jaar as amptelike taal vier

Afrikaans 100 se oorsigkomitee. (Foto: Maroela Media)

Verskeie organisasies, instansies, maatskappye en rolspelers uit die Afrikaanse gemeenskap het Maandag by die Kleinkaap-boetiekhotel in Centurion byeengekom vir die amptelike bekendstelling van Afrikaans 100, ʼn veldtog wat ter viering van Afrikaans se eeufeeswording in 2025 gestig is.

Michael Jonas, direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, het tydens die geleentheid gesê dit is belangrik dat die klem op 100 jaar van Afrikaans se amptelike status val.

“Die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans dateer terug na 1595. Hoewel daar dikwels na hierdie tydperk as die eerste periode in die geskiedenis van Afrikaans verwys word, is dit egter 8 Mei 1925 wat onthou en herdenk sal word. Dit word as een van die monumentale mylpale in die geskiedenis van dié relatiewe jong Afrika-taal beskou.”

Michael Jonas en dr. Theuns Eloff. (Foto: Maroela Media)

Op 8 Mei 2025 is dit dus 100 jaar sedert Afrikaans deur die Wet op Amptelike Tale van Suid-Afrika, Wet 8 van 1925, in die destydse parlement, naas Engels, as amptelike taal aanvaar is.

Die Afrikaans 100-veldtog word onder leiding van die Afrikaanse Taalraad (ATR) en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) gekoördineer, en ʼn wye en verteenwoordigende groep Afrikaanse organisasies is ook hierby betrokke.

In aanloop tot die nasionale feesgeleentheid, wat op 8 Mei 2025 by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in die Paarl gehou word, is ʼn oorsigkomitee, sowel as werkskomitees vir verskillende sektore, saamgestel.

Volgens dr. Theuns Eloff, voorsitter van die Afrikaans 100-oorsigkomitee, is die bestuurspan vroegtydig saamgestel met die doel om ʼn raamwerk te bied waarbinne alle organisasies, klein en groot, in die volgende twee jaar Afrikaans se 100ste bestaansjaar in Suid-Afrika kan vier.

Leon Ecroignard, Amanda Strydom en Dean Balie het gaste by die Afrikaans 100-bekendstelling vermaak. (Foto: Maroela Media)

Die oorsigkomitee bestaan uit Astrid de Vos (Dagbreek Trust), dr. Theuns Eloff (Trust vir Afrikaanse Onderwys) (voorsitter), Dianne Ferrus (skrywer en digter), Werner Human (Solidariteit Beweging), Michael Jonas (Afrikaanse Taalmuseum en -monument) (ondervoorsitter), Susan Lombaard (Maroela Media), Karen Meiring (Nuuseum), Sinki Mlambo (NWU), Hendrik Theys (UWK), Merlyn van der Rheede (Afrikaanse Taalraad), en Heinrich Wyngaard (Kaapse Forum). Die Afrikaanse Taalraad, met Ria Olivier en Conrad Steenkamp, tree as sekretariaat op.

Eloff meen die feit dat Afrikaans sy amptelike taalstatus te midde van al die politieke verandering oorleef het, is op sigself iets om te vier.

“Daarmee saam het Afrikaans in die afgelope 100 jaar ontsaglik baie mylpale bereik. Al daardie mylpale moet gevier word.”

Die oorsigkomitee sal ʼn koördinerende rol in die Afrikaans 100-veldtog speel, terwyl werkskomitees verantwoordelik daarvoor is om ʼn verskeidenheid feeste en geleenthede op alle vlakke van die gemeenskap deur die land te hou.

Sue Pyler-Slabbert. (Foto: Maroela Media)

Gaste wat die bekendstelling van die veldtog bygewoon het, is op vingerhappies en drankies getrakteer. Sue Pyler-Slabbert het die program aangebied en kunstenaars soos Amanda Strydom, Coenraad Rall, Dean Balie, Kosie Beukes en Leon Ecroignard het die vermaak verskaf.

Enige gemeenskap, organisasie, skool, maatskappy, instansie of individu wat die doelwitte van die Afrikaans 100-inisiatief deel, word genooi om deel van die feesvieringe te wees deur hul eie projekte van stapel te stuur.

Doelwitte van die Afrikaans 100-inisiatief is in ʼn manifes vervat. Organisasies wat deel van die Afrikaans 100-inisiatief wil vorm, kan hierdie manifes aanvra deur ‘n e-pos te stuur na [email protected]. Die manifes moet dan onderteken en terug gestuur word. By ontvangs van die getekende vorm sal die oorsigkomitee die amptelike Afrikaans 100-handelsmerk aan sulke instansies verskaf, wat dit dan op hul eie kommunikasie, bemarking en ander inisiatiewe kan gebruik om aan te dui dat hulle deel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Werner ·

Absoluut. Mense soos die voorsitter bly eenvoudig, na hoeveel mislukkings, misstappe en morele mistastings in hul loopbaan, steeds hardnekkig deel van ons lewens. Hoekom nie sommer vir Roelf Meyer op die paneel plaas nie?

quartus ·

wat gaan ons doen ivm die derduisende afrikaans spreekendes wat die land verlaat het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.