ʼn Vermeende inbreker is Maandag naby Moedville in Noordwes deur die polisie doodgeskiet.
ʼn Polisiewoordvoerder, kapt. Adele Myburgh, sê die oorledene en nog ʼn man het glo vroeër Maandag ʼn vrou op ʼn plaas in die omgewing beroof. Die 37-jarige vrou is vasgebind en met ʼn mes gedreig. Die mans het met kos en ander huishoudelike items gevlug. Die vrou kon daarin slaag om haarself te bevry en die polisie in kennis te stel. Myburgh sê twee mans is later deur ʼn polisiebeampte op die Koster-pad gesien en hy het hulle beveel om op die grond te lê. Sy sê terwyl die polisiebeampte een van die verdagtes deursoek het, het die ander verdagte opgespring en probeer om die beampte se vuurwapen te gryp. Die polisiebeampte en die man het in ʼn geveg betrokke geraak terwyl die ander verdagte gevlug het. Die polisiebeampte het ʼn waarskuwingskoot afgevuur voor hy die vermeende inbreker doodgeskiet het. Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en gewapende roof.