Vervolging ingestel vyf jaar ná man se skietdood

Gerhard Coetzer

Gerhard Coetzer. (Foto: Argief)

Vir vyf jaar het sy ʼn stryd gevoer vir geregtigheid ná haar man tydens ʼn familiebraai doodgeskiet is.

Bianca Coetzer (28) het Dinsdag aan Maroela Media gesê sy voel nou, vir die heel eerste keer, of iemand haar weergawe van gebeure werklik glo.

Destyds is berig Bianca se man Gerhard (29) is vermoedelik per ongeluk doodgeskiet toe die gesin by ʼn familielid in Middelburg, Mpumalanga, gekuier het.

Bianca het nog al die tyd volgehou dit was nie ʼn ongeluk nie en nog minder dat Gerhard deur rowers doodgeskiet is wat na bewering oor die familielid se muur sou spring.

Dié familielid, Phillip de Klerk, het Maandag weer in die landdroshof in Middelburg verskyn op ʼn moordklag wat verband hou met Gerhard se dood. Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het Dinsdag bevestig dit was die tweede keer wat De Klerk in die hof verskyn het. Die saak teen hom is uitgestel tot later vandeesmaand vir ʼn amptelike borgtogaansoek.

Phillip de Klerk

Phillip de Klerk het Maandag weer in die landdroshof in Middelburg, Mpumalanga verskyn in verband met die skietdood van Gerhard Coetzer vyf jaar gelede. (Foto: Facebook/Phillip de Klerk)

“Die afgelope vyf jaar was nie vir ons maklik nie; veral nie vir die kleintjies nie,” het Bianca vandeesweek gesê.

Gerhard is dood voor hulle twee kinders, Ronaldo (toe drie) en Biané (toe 10 maande oud). Die paartjie het ontmoet toe hulle 15 jaar oud was en was drie jaar getroud. Bianca het Gerhard as haar eerste en groot liefde beskryf.

“Sussie was nog te jonk om veel te onthou, maar boeta onthou alles en praat gereeld oor wat gebeur het. Hy kry nog gereeld nagmerries,” sê Bianca.

Sy moes ook vir Ronaldo verduidelik wat dit beteken noudat iemand in hegtenis geneem is; die seuntjie het gevrees dat hulle ook geskiet kan word.

“Noudat hy verstaan daar gaan gevolge wees, gaan dit beter,” sê Bianca.

Die gesin was destyds by De Klerk se huis vir ʼn familiebraai. Bianca onthou die volwassenes was meestal onder die lapa terwyl sy by die swembad was om ʼn ogie oor die kinders te hou.

De Klerk het na bewering baie gespog met sy wapen. Skielik het skote geklap en toe Coetzer weer omkyk, het sy gesien hoe bloed by Gerhard se neus en mond uitkom. Hy het ʼn paar treë gegee en inmekaargesak, onthou sy. Later het sy gehoor Gerhard is in die keel geskiet. Ronaldo het dit boonop sien afspeel.

Bianca sê sy het vergeefs gepleit dat iemand ʼn ambulans ontbied. Gerhard is dood verklaar toe ʼn ambulans wel later opgedaag het.

Volgens Bianca het De Klerk haar glo aangesê om nie na Gerhard te gaan waar hy op die grasperk gelê het nie. Hy het haar na bewering belowe om na haar en die kinders om te sien as sy sou aanvoer dat rowers Gerhard geskiet het.

Gerhard Coetzer

Bianca saam met haar en Gerhard se kinders, Ronaldo (8) en Biané (6). (Foto: Verskaf)

Volgens haar het sy en die kinders teruggekeer na Pretoria, waar sy ʼn polisieverklaring met haar weergawe van gebeure afgelê het.

“Hoekom sal ek jok oor so iets,” het sy Dinsdag gesê.

Sedertdien was dit ʼn swaar pad om die polisie so ver te kry om die saak te ondersoek, sê Bianca.

Van haar familielede het haar in die tyd ook afgeskryf omdat sy kwansuis sou jok oor wat regtig gebeur het.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het in 2021 betrokke geraak by die saak ná een van sy lede die saak onder hul aandag gebring het. Die staatsaanklaer het hierna aangedui ʼn geregtelike doodsondersoek sal gedoen word om vas te stel of enige iemand strafregtelik aanspreeklik gehou moet word vir Gerhard se dood.

AfriForum het Dinsdag die Nasionale Vervolgingsgesag se besluit om te vervolg verwelkom.

“Ons is tevrede dat die staat besluit het om die beskuldigde te vervolg in stede daarvan om voort te gaan met ʼn geregtelike doodsondersoek. Dit moes van die begin die besluit gewees het,” sê Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

“Ons sal voortgaan om die saak dop te hou,” sê Bateman.

Bianca het intussen die stukke van haar lewe stadig maar seker opgetel en ook nuwe liefde gevind. Sy en haar nuwe man is juis die afgelope Saterdag getroud. Sy wil nie hê sy naam moet gekoppel word aan die moordondersoek nie en het daarom gevra dat sy privaatheid beskerm word.

“Ek is weer gelukkig en het liefde gevind, maar dit vat nie vir Gerhard weg nie. Hy [haar tweede man] verstaan dit en is goed vir my en die kinders,” sê Bianca.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Impact ·

Ek is werklik baie bly dat sy die aangeleentheid kan afsluit en dat die De Klerk gemors gaan betaal vir sy dade, veral omdat hy dit wou toesmeer. Wees gelukkig saam jou nuwe eggenoot, jy verdien die tweede kans saam jou familie. Vergeet van die familie wat jou afgeskryf het, jou lewe is beter sonder hulle.

Onnie ·

Skokkend! Vermoor eers haar man en verwag dan van haar om daaroor te lieg om hom uit die tronk te hou?! Ek is so bly die waarheid kom nou uit. Sterkte!

Martie ·

Ja soveel ongerymdhede word toegesmeer en die polisie doen lustig saam daarmee. Minder werk en dis my vriend.

Phillip ·

Dis n baie hartseer saak. Hy sou skuldig wees aan nalatigheid en manslag. Nou is die regsverydeling en moord. Stupid verby. Sy tronkstraf sou nou al verby wees. Ek besef dit was nie bedoel nie. Ek weet dit was dalk n ongeluk met nalatigheid. Maar.nog steeds nie premeditated murder nie. Ja jy sou jou lisensie en wapen verloor en dalk tronkstraf uitdien of opgeskorte vonnis maar nee

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.