Die Koreaanse popsensasie, Psy, het Vrydag ‘n nuwe rekord gebreek toe sy video, Gangnam Style, meer as 1 miljard keer op YouTube gekyk is.
Dié internetsensasie het verlede maand sy eerste rekord gebreek toe dit die video geword het wat die meeste op YouTube gekyk is (Gangnam Style verskyn onderaan die video “Farmer Style” onderaan die berig).
Park Jae-Sang, beter bekend as Psy, het glo reeds honderde duisende rande verdien danksy die advertensies wat vooraf gespeel word. Selfs nou, vyf maande nadat dit op 15 Julie 2012 op YouTube gelaai is, het sy ster nog nie gekwyn nie, en word dit sowat 6.5 miljoen keer per dag gekyk.
Die volgende mylpaal sal wees wanneer meer mense die video gekyk het as wat in Indië bly (1.2 miljard) of in Sjina (1.3 miljard).
Die video, met sy unieke “perdry”-dansbeweging, is al talle kere nagemaak, sommige daarvan meer suksesvol as ander. Een van die video’s wat gewild is, is “Farmer style” wat deur die Peterson-plaasbroers (Greg, Nathan en Kendal Peterson) gemaak is wat landbou bevorder. Dié video met sy Christelike ondertone is reeds meer as 10 miljoen keer gekyk (video verskyn onderaan die berig).