Vier mynwerkers is Maandag deur die polisie en veiligheidswagte geskiet en gewond tydens ʼn onwettige betoging by Gold One’s se Modder East-myn naby Springs in die Oos-Rand.
Kaptein Pinky Tsinyane, ʼn Gautengse polisiewoordvoerder, het gesê die mans is na ʼn naby geleë hospitaal vir behandeling geneem. Hulle is egter later vandag weer ontslaan.
Vier mans is ook in verband met openbare geweld in hegtenis geneem.
Die myn het in ʼn verklaring gesê dat net rubberkoeëls tydens die voorval gebruik is. Daar moes op die groep van nagenoeg sestig werkers geskiet word omdat hulle ingange na die myn versper het. Die polisie het ook traangas gebruik om die groep uit mekaar te kry.
Na wat verneem word, het die werkers oor loongeskille gestaak.