Vloekery, haatspraak het KFC klante woedend

Foto: IOL

ʼn Liedjie van ʼn voormalige “vuilbek-sanger”, Shane McCallaghan, het ʼn kitskosrestaurant in Kaapstad moontlik in die sop en sy klante die hoenders in. Die liedjie, Die Nuwe Volkslied, op een van McCallaghan se CDs, Sies Jou Vark, is by ʼn KFC-restaurant oor hul klanksisteem gespeel en het van hul klante ontstel.

Een klant het gesê hy was geskok toe ‘n “vulgêre en onheilige” weergawe van die volkslied oor hul klanksisteem blêr. Cape Times het Donderdag berig die klant, Tariq Mellett, het by die KFC in Buitenkantstraat, in Gardens, in die ry staan en wag toe hy musiek hoor wat soos die volkslied, Nkosi Sikelil’ iAfrica, klink. “Dit het geklink soos dele van die volkslied, maar ek was verras toe die lied in Afrikaans begin het met: ‘Nkosi Sikelel’… Nkosi is ‘n d**s, Mandela is ‘n f****n k****r….’ Ek en twee ander klante was stomgeslaan deur die vulgariteit, onheiligheid en rassisme wat in ‘n gewilde gesinsrestaurant gespeel word,” het hy gesê.

Die restaurant se eienaar het geweier om kommentaar te lewer. Craig Davids, KFC se provinsiale bestuurder, het gesê hy het die kwessie na KFC se houermaatskappy verwys. “Ons is in die proses om die kwessie te ondersoek, ek kan nie kommentaar lewer totdat ons dit ondersoek het nie,” het hy gesê.

Shane se musiek veroorsaak sedert die begin van 2000 moeilikheid vir die sanger en sy aanhangers. ʼn Hoof uitvoerende bestuurder van ʼn sekuriteitsmaatskappy is 2009 hof toe gesleep nadat dieselfde liedjie by ʼn potjiekoskompetisie gespeel is, wat by Sun City gehou is. Een van die sekuriteitsmaatskappy se werknemers is later vir die voorval blameer en ontslaan. Shane het in 2007 aan die Sondagkoerant, die Son, gesê hy is nou “silwerskoon en gaan nooit weer ’n onbeskofte CD opneem nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.