Vrou val verkragter aan

Argieffoto

Die polisie is op soek na ‘n man wat beseer is toe hy Vrydagoggend in Kimberley ‘n vrou aangeval en verkrag het.

“Die man het die 30-jarige vrou aangeval toe sy van ‘n kroeg in die Groenpunt-gebied af teruggeloop het huis toe,” het lt. Donald Mdhuli, woordvoerder van die Noord-Kaap, gesê. “Die verdagte het glo ‘n mes by hom gehad en die vrou na ‘n nabygeleë veld geneem. Hy het toe die mes in die grond in gedruk sodat hy sy broek kan aftrek. Die slagoffer het die mes in dié stadium gegryp en hom in sy bobene, bo sy knieë en in sy lies gesteek.”

Die man het die mes by die vrou afgeneem en haar in die linkerhand gesteek en toe verkrag. Hy het die vrou toe na haar huis toe geneem voordat hy gevlug het. “Dit vererger die situasie, want die verdagte weet nou waar die slagoffer bly,” het Mdhluli bygevoeg.

Die vrou sê haar aanvaller praat vlot Afrikaans en het ‘n ligte vel, is middelmatig lank en middelmatig gebou. Hy het ‘n snor en het ‘n rooi T-hemp met ‘n dubbele kraag, wat rooi en wit was, aangehad. Hy het ‘n gebleikte denim en roomkleurige seilskoene aangehad.

“Waar hy ook al is, hy benodig dringende mediese behandeling,” het Mdhluli gesê.

Die polisie doen ‘n beroep op enigiemand met inligting om met ao Sabata Tsiu op 082 302 0473 of 053 838 4212 in verbinding te tree. Hulle kan Crime Stop ook by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karin Bothma ·

Laat die etter vrek. hy moet mediese hulp geweier word. wat se beeld dra dit uit as hy mediese hulp kry? hy behoort GEEN regte te he nie!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.