Vrou wat deur taxi gesleep is se toestand versleg

Kim McCusker. Foto: Facebook

Die Johannesburgse advokaat wat deur ʼn taxi omgery en meters ver gesleep is, se toestand het versleg.

ʼn Familielid van Kim McCusker het op ʼn ondersteuningsgroep op Facebook gesê sy sukkel om op haar eie asem te haal en sal moontlik weer aan ʼn ventilator gekoppel moet word. Volgens Gareth McCusker sal Kim ook weer vandag geopereer word. Hy sê sy het ʼn infeksie opgedoen wat tans met antibiotika behandel word. McCusker en haar verloofde, Lourens Grobler, was voorverlede week onderweg na die gimnasium toe ʼn taxi teen hulle bakkie gebots het. Hulle het glo uitgeklim om die taxibestuurder se besonderhede te kry toe hy weggejaag het en McCusker omgery en honderde meters ver gesleep het. Die taxibestuurder, Matome Thamage, beweer hy het weggejaag nadat Grobler hom glo aangerand het. Grobler is verlede week Maandag op borgtog van R5 000 vrygelaat. Hy word aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer en kwaadwillige saakbeskadiging. Thamage is ook verlede week op borgtog van R5 000 vrygelaat. Hy word aangekla van poging tot moord en roekelose en nalatige bestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae