WB-kwarteindstryd breek wéér Ierse harte

Jordie Barrett troos vir Bundee Aki nadat Nieu-Seeland vir Ierland met 28 – 24 in ’n Wêreldbeker-kwarteindstryd op die Stade de France geklop het. (Foto: Julien de Rosa/AFP)

Die All Blacks het sopas die Springbokke gewys hoe om met sterk Europese teenstanders af te reken toe hulle vir Ierland met 28 – 24 op die Stade de France geklop het.

Sam Cane se span was uitstekend by die afbreekpunte, die spelers het hul geleenthede gebruik om punte aan te teken en hul verdediging was rotsvas toe die Iere die een doodsnik-aanval na die ander op hul doellyn geloods het.

Om alles in een sin op te som: Nieu-Seeland is deur na nóg ʼn Wêreldbeker-halfeindstryd, terwyl Ierland wéér in die kwarteindstryd die onderspit gedelf het.

Jordie Barrett het met sy skopvoet uitgeblink, ouboet Beauden het meters op die aanval vir die All Blacks gewen, terwyl kaptein Cane meer as 20 suksesvolle duikslae uitgevoer het.

Terselfdertyd het Richie Mo’unga beter op die veld as die ervare Johnny Sexton gelyk en daar is ook maar net een Ardie Savea.

Moet dit egter nie verkeerd verstaan nie – Ierland het álles in die stryd gewerp om dié wedstryd te wen.

Dit was ʼn see van groen in die pawiljoensitplekke van die Stade de France en toe die ondersteuners eers hul stemme laat hoor het, het Ierland na ʼn hoër rat geskakel.

Die indrukwekkende Bundee Aki het die wêreldno.1-span se eerste drie gedruk, terwyl Jamison Gibson-Park gesorg het dat die Kiwi’s ʼn rustydvoorsprong van net een punt (18 – 17) geniet het.

Al twee Ierse driedrukkers is in Auckland gebore.

Maar ondanks ʼn strafdrie teen hulle in die tweede helfte en twee geel kaarte in die wedstryd, weet Nieu-Seeland net hoe om belangrike uitspeelstryde te wen.

Hulle het meer aanvallende lopies van stapel gestuur, meer verdedigers geklop en minder duikslae gemis.

Dit is ʼn rugbyland wat gebou is vir Wêreldbeker-toernooie.

Teen die einde van die aksiebelaaide tweestryd het Ierland amper 40 fases opgebou, alles in tevergeefse poging om die All Blacks-verdediging te fnuik.

Toe die eindfluitjie egter ná meer as 80 minute se spel blaas, het ʼn spul Ierse harte gebreek.

Die wêreld se voorste span gaan nie die wêreldkampioen word nie.

  • Puntemakers:

Nieu-Seeland: Drieë: Leicester Fainga’anuku, Ardie Savea en Will Jordan. Doelskoppe: Richie Mo’unga en Jordie Barrett. Strafskoppe: Mo’unga en Jordie Barrett (2).

Ierland: Drieë: Stafdrie, Bundee Aki en Jamison Gibson-Park. Doelskoppe: Johnny Sexton (2). Strafskop: Sexton.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mnr De Beer ·

Sam Cane het Peter O’Mahony herriner hoekom All Blacks nie onderskat moet word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.