102 marathons in 102 dae – en dít met ’n kunsbeen

Jacky Hunt-Broersma (Foto: Twitter)

’n Suid-Afrikaanse gebore vrou wat in Amerika woon en haar linkerbeen weens ’n seldsame kanker verloor het, het die afgelope Donderdag ’n nie-amptelike wêreldrekord opgestel deur 102 marathons in 102 dae te hardloop.

Dit lyk egter nie of Jacky Hunt-Broersma se gô sommer uithang nie aangesien sy nóg twee marathons sou hol sodat sy teen Saterdag 104 marathons voltooi het.

Sy sou dan meer as 4 400 km in net meer as drie maande afgelê het en meer as $27 000 (sowat R426 000) ten bate van mede-lemlopers wat duur prostese benodig, ingesamel het.

Hunt-Broersma se oorspronklike doelwit was om 100 marathons in 100 dae te hardloop sodat sy die rekord van 95 wat in 2020 deur Alyssa Amos Clark, ’n nie-gestremde hardloper van Bennington in Vermont opgestel is, kon klop.

Toe verbeter die nie-gestremde Britse hardloper Kate Jayden vroeër vandeesmaand Clark se rekord met 101 marathons in 101 dae. Hunt-Broersma het net daar en dan besef sy sal minstens 102 marathonne moet hardloop.

En dis presies wat sy gedoen het.

Die 49-jarige Hunt-Broersma het haar eerste marathon (42,4 kilometer) met behulp van ’n prostetiese been op 17 Januarie voltooi waarna nóg 101 marathons op ’n baan naby haar huis in Gilbert in die Amerikaanse deelstaat Arizona en binnenshuis op die trapmeul gevolg het.

“Ek is net bly dat ek dit gemaak het – ek kan dit nie glo nie,” het Hunt-Broersma ná haar 102de marathon te sê gehad.

“Die beste ding was die ongelooflike ondersteuning wat ek ontvang het van mense reg oor die wêreld wat uitgereik het en my vertel het hoe dit hulle geïnspireer het om meer druk op hulself te plaas.”

Bronne: CBC, Fox26 Houston, US News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

piet ·

‘n Goeie advertensie vir die prostese, daai goed word sterk gebou. Sy moes eintlik die vervaardiger daarvan as borg aan boord gekry het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.