11-jarige reis 1 200 km alleen na Oekraïense grens

Klein Hassan nadat hy in Slowakye aangekom het. (Foto: Slowaakse ministerie van binnelandse sake/Facebook)

ʼn Elfjarige seun het veilig in Slowakye aangekom nadat hy sowat 1 200 km alleen van die oorloggeteisterde Oekraïne gereis het.

Die Slowaakse ministerie van binnelandse sake sê die seun, net bekend as Hassan, het die reis met slegs ʼn plastieksak, ʼn klein rooi rugsak, ʼn paspoort en sy familie se telefoonnommer meegemaak. Dié nommer was op sy hand neergeskryf.

Hassan se ma, ʼn weduwee, moes noodgedwonge by hul huis in Zaporizhzhia in die suide van Oekraïne agtergebly, aangesien sy nie haar bejaarde ma kon agterlaat nie.

Julia Pisecka het haar seun per trein laat vlug. Hy is met sy aankoms by die Slowaakse grens deur doeanebeamptes oorgehelp. Hy is later deur vrywilligers ingeneem wat vir hom kos gegee het, terwyl grensbeamptes met familielede in die hoofstad Bratislava in aanraking gekom het.

Klein Hassan nadat hy in Slowakye aangekom het. (Foto: Slowaakse ministerie van binnelandse sake/Facebook)

Die Slowaakse ministerie van binnelandse sake sê nou klein Hassan is ʼn “ware held”, wat verskeie harte aangegryp het met “sy glimlag, vreesloosheid en vasberadenheid”.

Hassan se ma het sedertdien in ʼn video, wat deur die Slowaakse polisie op sosiale media geplaas is, almal bedank wat na haar seun met sy aankoms in Slowakye omgesien het.

Klein Hassan nadat hy in Slowakye aangekom het. (Foto: Slowaakse ministerie van binnelandse sake/Facebook)

“Langs my dorp is ʼn kernkragsentrale wat die Russe gebombardeer het. Ek kon nie my ma agterlaat nie. Sy kan nie op haar eie oor die weg kom nie, so ek het my seun Slowakye toe gestuur,” het Pisecka verduidelik.

Maroela Media het vroeër berig die kernkragsentrale by Zaporizhzhia, ʼn nywerheidstad in die suidooste, is die grootste in Oekraïne. Die land se president, Wolodimir Zelenski, het Moskou Vrydag van “kernterreur” beskuldig nadat Russiese magte dié kernkragsentrale aangeval het.

Hassan is maar een van meer as twee miljoen mense wat reeds uit Oekraïne gevlug het sedert Rusland die land binnegeval het. Meer as 1,2 miljoen het na Pole gevlug, terwyl 140 745 nou in  Slowakye skuil.

Pisecka het in haar video gepleit dat Oekraïense kinders ʼn veilige hawe gebied moet word.

Die telefoonnommer van Hassan se familie was op sy hand neergeskryf. (Foto: Slowaakse ministerie van binnelandse sake/Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Twallie ·

Brawe kind. Kan nie eers dink wat hy deurgegaan het nie. En hoe hartseer dit is dat kinders sulke dinge moet deurgaan nie.

Sterkte vorentoe bulletjie. Jy het ‘n hart van staal. Daardie deursettingsvemoë gaan jou nog ver bring.

SlinkseKoljander ·

Daar is duisende sulke kinders in Suid Afrika, maar ek het eintlik net meegevoel met die kind.

Lillian ·

Dis eintlik so hartseer. So klein en bloot gestel aan die elemente van ‘n oorlog in sy land.

Misky ·

Dankbaar die seun is veilig en dit was in Ukraine en nie in SA nie. Ons sou van ‘n tragiese einde nou hier gelees het.

madels ·

Hy is so n brawe jong man, maar die letsels van die oorlog sal vir altyd vasgebrand wees in sy geheue….dis n verskriklike ding om as 11jarige so n tog aan te pak. So bly dat hy veilig is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.