111-jarige nou wêreld se oudste man

John Tinniswood (Foto: Guiness World Records)

Die 111-jarige John Alfred Tinniswood van Engeland is nou die wêreld se oudste lewende man, ná die dood van die 114-jarige Juan Vicente Pérez van Venezuela.

Volgens Guinness World Records is daar aanvanklik verwag dat die 112-jarige Gisaburo Sonobe van Japan die nuwe rekordhouer sou wees, maar daar is onlangs bevestig dat hy op 31 Maart vanjaar oorlede is.

Tinniswood is op 26 Augustus 1912 in Liverpool gebore. Hy woon tans by ’n versorgingshuis in Southport, waar personeel hom as “’n groot praatkous” beskryf.

Ten spyte van sy gevorderde ouderdom kan Tinniswood steeds die meeste daaglikse take onafhanklik verrig: hy klim sonder hulp uit die bed, luister na die radio om tred te hou met die nuus, en bestuur steeds sy eie finansies. Volgens hom is die geheim van sy lang lewe “pure geluk”.

John Tinniswood (Foto: Guiness World Records)

Tinniswood rook nie en drink selde alkohol en meen om matigheid voor oë te hou, is die vernaamste manier om gesond te bly.

Hy het sy vrou, Blodwen, by ’n dans in Liverpool ontmoet. Hulle is in 1942 getroud en hul dogter Susan is die jaar daarna gebore. Die egpaar was 44 jaar saam voor Blodwen in 1986 oorlede is. Tinniswood het tans vier kleinkinders en drie agterkleinkinders.

Sedert hy in 2012 100 jaar oud geword het, het Tinniswood elke jaar ’n verjaardagkaartjie van wyle koningin Elizabeth ontvang.

Tinniswood is nie veel gepla oor sy nuutgevonde status as die oudste man in die wêreld nie. “Maak geen verskil aan my nie,” het hy gesê. “Glad nie. Ek aanvaar dit vir wat dit is.”

Die oudste man ooit was Jiroemon Kimura (1897-2013) van Japan, wat tot die ouderdom van 116 jaar en 54 dae geleef het.

Die wêreld se oudste lewende vrou en oudste lewende persoon, is Spanje se Maria Branyas Morera, wat onlangs haar 117de verjaardag gevier het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.