14-jarige vas ná noodlottige skietery by Thaise winkelsentrum

Verskrikte inkopiegangers by die Siam Paragon-winkelsentrum. (Foto: Lillian SUWANRUMPHA / AFP)

Minstens een persoon is Dinsdag dood en ses ander gewond tydens ʼn skietery by ʼn luukse winkelsentrum in Bangkok, Thailand. ’n Tienerseun (14) is in die winkelsentrum in hegtenis geneem in verband met die skietery.

Honderde mense het laat spaander toe verskeie skote omstreeks 16:30 (plaaslike tyd) in die luukse Siam Paragon-winkelsentrum afgevuur is.

“Ek het omstreeks 16:30 harde geweerskote, aanhoudend, omtrent 10 keer gehoor,” vertel Thanpawasit Singthongkham (31), wat by ʼn Japannese restaurant in die winkelsentrum werk.

Videomateriaal wys hoe ʼn tienerseun met lang hare, geklee in ʼn swart hemp, bril en ʼn pet met ’n Amerikaanse vlagmotief daarop, deur die Thaise polisie in hegtenis geneem word.

Yuthana Srettanan, direkteur van die Erawan-noodsentrum, sê ’n voorlopige ondersoek dui daarop dat ’n Chinese vrou in die winkelsentrum doodgeskiet is.

Ses ander mense is gewond en vyf van hulle is in ʼn bedenklike toestand. Almal behalwe een van die persone wat gewond is, is vroue.

Die owerhede Dinsdag by die Siam Paragon-winkelsentrum. (Foto: Lillian SUWANRUMPHA / AFP)

Ooggetuies sê chaotiese tonele het hul vanmiddag by Siam Paragon, een van Bangkok se voorste inkopiebestemmings wat uiters gewild onder toeriste en Thaise burgers is, afgespeel.

AFP het beeldmateriaal gesien van hoe verskrikte inkopiegangers onder metaalveiligheidshekke duik en winkelingange versper. Die mense hardloop uiteindelik by ’n stel noodtrappe af terwyl sirenes loei.

In ’n ander video, wat op Facebook gedeel is en deur AFP as eg bevestig is, kan talle mense in die winkelsentrum se ondergrondse parkeerterrein gesien word. Die mense word deur aankondigings oor luidsprekers begelei.

Tientalle polisievoertuie en verskeie ambulanse kon in die nasleep van die voorval buite een van die winkelsentrum se hoofingange gesien word.

“Ons het nie geweet wat gebeur nie, toe vra personeel van ʼn winkel ons om in te gaan en sê daar is iemand wat skiet,” vertel die Chinese toeris Xiong Ying.

“Almal het probeer om ʼn wegkruipplek te kry. Soveel mense was vreesbevange; net soos ʼn toneel in die zombieflieks.”

Srettha Thavisin, eerste minister van Thailand, het aan verslaggewers gesê die aanvaller is aangekeer en die situasie is onder beheer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Miskruier ·

Kinders spandeer ure aanlyn, maak oorlog en pleeg geweld, dis seker nie snaaks dat hul in die werklikheid dit ook doen nie.

Bolandse Nooi ·

Mense se reaksie verbaas my altyd. Tydens noodontruimingsoefeninge, wat veronderstel is om gereeld te geskied in groot geboue soos hospitale, inkopiesentrums e.d.m., word daar baie mooi, duidelik gevra dat mense NIE moet “panic” nie en NIE moet wild rond hardloop nie. Tensy jou lewe in gevaar is, ontruim KALM, maak net dat jy so gou as moontlik by die naaste uitgang kom en volg alle instruksies gegee deur noodpersoneel. Dikwels word meer mense beseer – selfs gedood – tydens ontruimings, waar mense soos troppe skape maal en rondhol.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.