Sestien persone is Sondag in Brussel en Charleroi in België tydens polisieklopjagte in hegtenis geneem ná terreuraanvalle in Parys vroeër vandeesmaand.
Eric van der Sijpt, federale staatsaanklaer, het vroeg Maandagoggend gesê geen wapens of springstof is gevind nie en die verdagte van die terreuraanval in Parys, Saleh Abdeslam, is ook nie tydens die klopjagte in hegtenis geneem nie.
Abdeslam het op 14 November België betree. Sy broer, Mohamed Abdeslam, het intussen op Belgiese televisie ʼn beroep op hom gedoen om homself oor te gee.
Buiten dat Van der Sijpt bevestig het dat Abdeslam steeds voortvlugtig is, het hy nie enige verdere besonderhede bekend gemaak oor die voorwerpe wat wel tydens die klopjagte gevind is of die identiteit van die verdagtes bekend gemaak nie.
Altesaam 19 klopjagte is in Molenbeek, Jette, Anderlecht, Schaerbeek, Forest en Woluwe-Saint-Lambert in Brussel uitgevoer en drie ander klopjagte in Charleroi.
“Die polisie het op ʼn voertuig in Molenbeek geskiet nadat dit van die toneel weggery het, maar dit is later in Brussel voorgekeer. Een van die verdagtes in die motor is beseer. Hy is in hegtenis geneem,” het Van der Sijpt bygevoeg.
Die Brussel-streek bly Maandag op die hoogste vlak van bedreiging. Die terreurbedreigingvlak in die Brussel-streek is Saterdag “tot die maksimum” verhoog, aangesien owerhede inligting ontvang het oor ʼn risiko vir aanvalle, “gelykstaande aan dié van Parys”.
Owerhede het intussen die vlak van bedreiging in die res van België gedaal ná ʼn nuwe assessering deur OCAM, die Belgiese koördinerende liggaam wat die vlak van bedreiging assesseer.
Lees alle vorige berigte oor Saleh Abdeslam op Maroela Media.