175 minderjariges oor 80 jaar mishandel

Argieffoto (Foto: kisistvan77/Pixabay)

Die Legionaries of Christ, ʼn beskaamde Katolieke orde wat gestig is deur ʼn man wat later as ʼn pedofiel uitgeken is, het erken dat minstens 33 van sy priesters die afgelope 80 jaar minstens 175 minderjariges mishandel het.

“Minstens 60” van die kinders is mishandel deur die orde se stigter, vader Marcial Maciel Degollado, het die Legionaries Saterdagaand in ʼn verklaring gesê. Dit het tot ʼn interne ondersoek gelei wat terugstrek tot die orde se stigting in 1941. Degollado is intussen oorlede.

Van die ander 32 priesters het vyf gesterf, agt het die priesterskap verlaat, een het die orde verlaat en 18 is nog steeds lede, het die Legionaries gesê.

“Van die 18 wat oorbly het vier ministeriële beperkings wat ʼn veiligheidsplan insluit met geen pastorale kontak met minderjariges nie. Veertien het geen openbare priesterlike bediening nie,” lui die verklaring.

“Die orde wil die uitslag van die verslag bekend maak, om sy lidmate en vennote saam te bring in ʼn poging om die seksuele mishandeling van kinders uit te roei en seker te maak daar is ʼn kultuur van beskerming en sorg vir minderjariges.”

Degollado, wat in Mexiko gebore is, is in 2008 in die ouderdom van 87 oorlede. Hy was ook die pa van drie kinders by twee vroue, en alhoewel bewerings van sy wangedrag publiek gemaak is in die middel 1990’s, het die Vatikaan geen stappe teen hom gedoen tot 2006 nie.

Die Vatikaan se vertraagde reaksie word verbind met die feit dat Degollado ʼn nabye vriend was van wyle Johannes Paulus II. Onder pous Benedictus XVI (2005-2013) is Degollado beveel om homself te wy aan ʼn lewe van “gebed en boetedoening”, maar hy is nie gestraf nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.