21 dood toe bus in Venesië van brug afstort

(Foto: Marco Sabadin/AFP)

Minstens 21 mense is dood en talle ander beseer toe ’n bus Dinsdagaand van ’n brug in Venesië, Italië, afgestort en aan die brand geslaan het.

Die batterykrag-aangedrewe bus het op sy dak te lande gekom ná dit meer as tien meter geval het, sê Mauro Luongo, bevelvoerder van die brandweer in Venesië.

Die bus het toeriste van Venesië se historiese sentrum na ʼn kampeerterrein vervoer toe die ongeluk omstreeks 19:30 plaasgevind het.

Volgens brandbestryders het die bus die pad verlaat en naby spoorlyne in die Mestre-distrik, wat met ’n brug aan Venesië verbind word, neergestort.

Onder die sterftes was die busbestuurder, twee kinders en buitelandse toeriste van Oekraïne. Volgens inligting was daar ook toeriste van Kroasië, Duitsland en Frankryk onder die beseerdes. Dit moet egter nog bevestig word.

Altesame 19 mense het op die toneel gesterf, en twee kort daarna in ʼn hospitaal.

Nooddienswerkers het ook ure lank gespook om liggame uit die buswrak te verwyder.

Luongo sê die oorsaak van die ongeluk word nog ondersoek. Owerhede fynkam ook kringtelevisie-beeldmateriaal om te probeer vasstel wat gebeur het.

Hulle vermoed egter dat die elektriese batterye van die bus tydens die impak aan die brand geslaan het. Verder word daar ook bespiegel dat die busbestuurder skielik siek geword en beheer oor die bus verloor het. Die Italiaanse minister van vervoer, Matteo Salvini, is een van diegene wat laasgenoemde scenario voorstel.

Medelye

(Foto: Marco Sabadin/AFP)

“’n Tragedie het ons gemeenskap vanaand getref,” het Luigi Brugnaro, burgemeester van Venesië, Dinsdagaand gesê. Hy het die ongelukstoneel as ’n “apokaliptiese toneel” beskryf.

Die Italiaanse eerste minister, Giorgia Meloni, die Franse president Emmanuel Macron en die hoof van die Europese Unie, Ursula von der Leyen, het hul meegevoel met die slagoffers se geliefdes betuig.

Die Duitse minister van buitelandse sake, Annalena Baerbock, het gesê sy is diep bedroef oor die tragedie.

“In hierdie nag van hartseer is my gedagtes by die slagoffers, hul families en vriende,” het sy gesê.

Intussen het ʼn woordvoerder van die Duitse departement van buitelandse sake aan AFP gesê sy ambassade in Rome werk saam met Italiaanse owerhede om na te gaan of Duitse burgers onder die slagoffers is.

In Julie 2018 het ʼn bus wat ʼn groep van sowat 50 vakansiegangers na Napels vervoer het, ook van ʼn brug naby die stad geval. Altesame 40 mense is in die ongeluk dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.