21 jaar later is 9/11 steeds onthou

Familielede van slagoffers, polisiebeamptes, brandbestryders en stadsleiers het by die nasionale 11 September-gedenkteken in Laer-Manhattan bymekaargekom, waar die name van diegene wat gesterf het hardop gelees is (Foto: Yuki Iwamura, AFP)

Amerikaners het Sondag die 21ste herdenking van die 9/11-terreuraanvalle gevier, met pres. Joe Biden wat die Pentagon besoek het, en inwoners van New York wat die duisende mense wat hul lewens op hierdie tragiese dag verloor het, vereer het.

Vandag is dit presies 21 jaar sedert die Islamitiese terreurgroep Al-Kaïda die VSA op 11 September 2001 geskok en vier selfmoordaanvalle op dié land uitgevoer het.

Vier vliegtuie is dié noodlottige oggend gekaap. Twee van die vliegtuie het in die World Trade Center se Twin Towers in New York vasgevlieg, ʼn derde in die Pentagon net buite Washington DC en die vierde vliegtuig het in ʼn veld naby Shanksville in Pennsilvania neergestort.

Familielede van slagoffers, polisiebeamptes, brandbestryders en stadsleiers het by die nasionale 11 September-gedenkteken in Laer-Manhattan bymekaargekom, waar die name van diegene wat gesterf het hardop gelees is. Hierdie tradisie word al vir die afgelope 21 jaar onderhou.

Klokke het gelui en oomblikke van stilte is vir die slagoffers gehou.

Biden het die herdenking by die Pentagon bygewoon, waar hy ’n krans blomme buite die gebou genader en sy hand oor sy hart geplaas het.

President Joe Biden het die herdenking by die Pentagon bygewoon, waar hy ’n krans blomme buite die gebou genader en sy hand oor sy hart geplaas het [Foto: Anna Moneymaker, AFP]

“Een en twintig jaar later hou ons die herinnering lewend aan al die kosbare lewens wat by Ground Zero, in Shanksville en by die Pentagon geëis is,” het Biden op Twitter geskryf.

“Aan die families en geliefdes wat steeds die pyn voel, ek en Jill hou julle in ons harte.”

Visepres. Kamala Harris, Alejandro Mayorkas, sekretaris van binnelandse veiligheid, en Eric Adams, burgemeester van New York, was van die hooggeplaastes wat die New York-plegtigheid bygewoon het waar familielede van die oorledenes mekaar omhels het, blomme by die gedenkteken geplaas het en plakkate gehou het of hemde met afbeeldings van hul geliefdes gedra het.

“Terwyl die hartseer met die loop van jare afneem, is die permanente afwesigheid van my pa net so tasbaar soos die dag toe hy gesterf het,” het die seun van Jon Leslie Albert gesê nadat hy verskeie slagoffers se name gelees het, insluitend dié van sy pa.

21 jaar later word die slagoffers van die 9/11-terreuraanvalle steeds onthou (Fptp: Yuki Iwamura, AFP)

Boodskappe van simpatie en ondersteuning het ook uit die buiteland gekom, insluitend van Navo se sekretaris-generaal, Jens Stoltenberg, en die Oekraïense president Volodymyr Zelensky, wat 11 September “een van die mees tragiese dae” vir die VSA en die wêreld beskryf het.

“Oekraïne, wat daagliks aanvalle ervaar, weet goed wat terrorisme is en het opreg simpatie met die Amerikaanse volk,” het Zelensky op Twitter geskryf, met verwysing na die Russiese inval in sy land wat duisende dood gelaat het.

Twee blou strale wat die naghemel verlig en wat die Twin Towers simboliseer was Saterdagaand in New York sigbaar.

Twee blou strale wat die naghemel verlig en wat die Twin Towers simboliseer was Saterdagaand in New York sigbaar [Foto: Ed Jones, AFP]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.