Akteur van ‘Black Panther’ sterf

Chadwick Boseman (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

Die Amerikaanse akteur Chadwick Boseman, bekend vir sy rol as King T’Challa in Marvel Studios se superheld-fliek Black Panther, is dood aan kanker.

Boseman was 43 jaar oud.

Boseman is Vrydag by sy huis in Los Angeles, Kalifornië, oorlede. Hy was omring deur sy vrou en familie.

Die akteur se familie het intussen in ’n verklaring gesê hy is vier jaar gelede met kolonkanker gediagnoseer. Boseman het egter nooit hierdie diagnose bekend gemaak nie.

“’n Ware vegter. Chadwick het deur alles volhard en hom toegewy aan baie van die films waarvoor julle so lief geword het,” lui die verklaring.

Chadwick Boseman (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

“Van Marshall tot Da 5 Bloods, August Wilson se Ma Rainey’s Black Bottom en nog vele meer – alles is verfilm tydens en tussendeur tallose chirurgie en chemoterapie. Dit was die eer van sy loopbaan om King T’Challa in Black Panther tot lewe te kon bring.”

Medelye stroom sedertdien in.

“Hy was ’n diep toegewyde en voortdurend nuuskierige kunstenaar. Hy het nog soveel wonderlike werk oorgehad om te skep,” het die akteur Chris Evans, bekend vir sy rol as Captain America, gesê.

Die demokratiese presidentskandidaat Joe Biden het om die beurt getwiet dat Boseman “generasies geïnspireer en laat besef het dat hulle enigiets kan wees wat hulle wil – selfs superhelde”.

Maroela Media het vroeër berig Black Panther het geskiedenis gemaak as die eerste superheld-fliek wat in 2019 vir beste fliek in die 91ste Oscar-toekennings benoem is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

“Dont freeze. I never freeze”….rus in vrede Chadwick Boseman.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.