Amasonewoud stel al meer koolstof vry

‘n Boot vaar op die Jururarivier in Carauari, in die hartjie van die Brasiliese Amasone. (Foto: Florence Goisnard/AFP)

Die Brasiliese Amasone het die afgelope dekade byna 20% meer koolstof in die atmosfeer vrygestel as wat dit opgeneem het. Dié bevinding is gemaak in ʼn verslag wat boonop lui dat die mensdom nie meer kan staatmaak op die wêreld se grootste tropiese woud om mensgemaakte koolstofbesoedeling te help opneem nie.

Van 2010 tot 2019 het Brasilië se Amasonekom altesame 16,6 miljard ton koolstof vrygestel, terwyl dit net 13,9 miljard ton opgeneem het, het navorsers die afgelope week bekend gemaak.

Hulle studie het gekyk na die hoeveelheid koolstof wat geabsorbeer en gestoor word soos wat die woud groei, teenoor die hoeveelheid wat in die atmosfeer vrygelaat word terwyl die gebied afgebrand of verwoes word.

“Ons het dit eintlik verwag, maar dit is die eerste keer dat ons syfers het wat wys die Brasiliese Amasone het omgeswaai en is nou ʼn netto uitstraler,” het een van die skrywers van die artikel in Nature Climate Change, Jean-Pierre Wigneron, gesê.

Wigneron is ʼn navorser by Frankryk se Nasionale Instituut vir Agronomiese Navorsing (INRA).

“Ons weet nie in watter stadium die verandering onomkeerbaar gaan word nie.”

‘n Vragmotor gooi water op ‘n grondpad terwyl bouwerk aan die Trans-Amasone-hoofweg voortgaan. Snelweë het ‘n groot bydrae gelewer tot die ontbossing van die reënwoude. (Foto: Nelson Almeida/AFP)

Die studie wys dat ontbossing – deur brande en die uitkap van die woud – in 2019 byna viervoudig toegeneem het sedert die vorige twee jare. Dit het toegeneem van sowat ʼn miljoen hektaar tot 3,9 miljoen hektaar, oftewel die grootte van ʼn land soos Nederland.

“Brasilië het ʼn skerp daling in aansoeke vir omgewingsbeskermingsbeleid gehad sedert die regeringsverandering in 2019,” het die INRA in ʼn verklaring gesê.

Ekostelsels wêreldwyd was ʼn belangrike bondgenoot terwyl die wêreld sukkel om koolstof-uitstraling, wat in 2019 40 miljard ton bereik het, te verminder. Oor die laaste halfeeu het plante en grond sowat 30% van die gasse opgeneem, selfs terwyl dit in dieselfde tyd met meer as 50% toegeneem het.

Die wêreld se oseane help ook, en het 20% opgeneem.

Die Amasonekom bevat sowat die helfte van die wêreld se tropiese reënwoude wat veel doeltreffender is om koolstof op te neem en te stoor as ander soorte plantegroei. Indien die streek ʼn bron van koolstof word – eerder as ʼn plek waar dit geabsorbeer word – gaan dit egter veel moeiliker wees om die klimaatkrisis te pak.

Sowat 60% van die Amasonewoud is in Brasilië geleë.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JanSt ·

Jes 51:6. Slaan julle oë op na die hemel en aanskou die aarde daaronder; want die hemel sal soos rook verdwyn en die aarde soos ‘n kleed verslyt en sy bewoners soos muskiete sterwe;

Mariana ·

Mens is grootste vyand van die natuur en ook die aarde. Niks bly ongeskonde waar hulle gaan nie

annie ·

Indien niemand hout uit Suid-Amerika invoer nie, sal minder bome afgekap word. Maar die rykes soek fancy meubels en state het grootse geboue vol duur houtafwerkings en lessenaars… statussimbole. Die grootste skreeubekke oor aardverwarming… eintlik sonverwarming… is rykes wat snags op groot houtbeddens slaap in kamers vol rooshoutgeur en swaar houtkaste gelaai met skatte vanaf die aarde.

Dirk Mostert ·

Die bosbou-bedryf is volhoubaar! Ek stem egter saam dat natuurlike woude beskerm moet word.

Dirk Mostert ·

Die “navorsers” ken nie die verskil tussen koolstof (C) en kooldioksied (CO2) nie? CO2 in die atmosfeer is essensieel vir alle plantegroei. Daarsonder kan plantegroei (en indirek diere, mense) nie bestaan nie. CO2 veroorsaak NIE aardverwarming aka klimaatsverandering nie. Klimaat-pseudowetenskaplikes weet nie dat die kweekhuisgas-teorie teenstrydig is met die wette van termodinamika nie. Hulle weet nie eens van die wette nie. Geskiedenis- en geologiese gegewens wys dat klimaatsverandering natuurlik en siklies is en so oud soos die aarde. Die aarde was die laaste 10,000 jaar meestal warmer en die CO2-inhoud van die atmosfeer is tans gevaarlik laag. Seevlakke was al tot 100 meters hoer en laer gedurende die afgelope 1-2 miljoen jaar. Oseane kan nie “versuur ” nie. Met ‘n pH van 8 is dit in werklikheid alkalies!

annie ·

Mmm… Dirk. Jy’s een van die min ouens met moed vir die waarheid. Die pole moet dalk ook siklies ontvries byna soos yskaste anders slaan die aarde bollemakiesie. En hoe sal Greta daarvan hou om vanaf die onderkant van haar globe te regeer…

Neestemmer ·

Nee wat, as hierdie Aardeverwarming nie net nog ‘n verskoning was om ons te beheer nie, sou hulle die uitkap v.d. woude en besoedeling van die oseane bekamp het. Ek sou graag wil weet hoe die kamstige “wetenskaplikes” al die inname en vrystelling van die koolstof in die Amasone meet om so simpel stelling te kan maak dat ‘n woud koolstof vrystel meer as wat hy gebruik…..

Dirk Mostert ·

Is dit ‘n toeval dat Bill Gates ‘n prominente rol speel in beide die “pandemie” en “aardverwarming”?

Dirk Mostert ·

Skuus Neestemmer, die afduim was ‘n glips. Dit was op bedoel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.