Assistentregisseur praat oor tragedie op filmstel

Die Bonanza Creek Ranch waar die 19de-eeuse Wilde Weste-fliek Rust verfilm is. (Foto: Patrick T. FALLON / AFP)

Die assistentregisseur wat die gelaaide geweer aan Alec Baldwin gegee het waarmee die kinematograaf Halyna Hutchins op stel doodgeskiet is, het Maandag sy skok en hartseer oor haar dood uitgespreek.

Dit is die eerste keer dat David Halls van hom laat hoor sedert die tragedie hom meer as twee weke gelede op die rolprentstel van die 19de-eeuse Wilde Weste-fliek Rust afgespeel het.

Halls het reeds aan die polisie erken dat hy nie die wapen en al die patrone voldoende nagegaan het voordat hy dit die betrokke dag aan Baldwin oorhandig het nie.

Halls het Maandag in ʼn verklaring aan die New York Post gesê hy is “geskok en hartseer” oor Hutchins se dood. Hy het egter nié die skietery of sy rol daarin direk in die verklaring aangeraak nie.

“Halyna Hutchins was nie net een van die mees talentvolle mense saam met wie ek gewerk het nie, maar ook ʼn vriendin,” het Halls geskryf.

“Ek hoop dat hierdie tragedie die bedryf aanspoor om sy waardes en praktyke te herevalueer om te verseker dat niemand weer deur die kreatiewe proses benadeel word nie.”

Halls was saam met die film se wapenhanteerder Hannah Gutierrez-Reed verantwoordelik vir die hantering en kontrolering van wapens op stel toe hy die vuurwapen aan Baldwin gegee en “cold gun” – wat beteken dit bevat nie skerp ammunisie nie – geroep het.

Alec Baldwin (Foto: Skermgreep)

Baldwin het die vuurwapen tydens ʼn kleedrepetisie afgevuur en Hutchins in die bors en die rolprent se regisseur in die skouer getref. Die 42-jarige Hutchins is per helikopter na ʼn hospitaal vervoer, maar het aan haar beserings gesterf.

Volgens ʼn deursoekingslasbrief het Halls aan speurders gesê hy “moes nagegaan het” dat al die patrone in die Colt .45-geweer foppatrone was, “maar het nie”.

Volgens Halls het hy glo aan Baldwin bevestig dat die wapen veilig is en na bewering die term “cold gun” gebruik om die status van die vuurwapen as veilig aan te dui.

Halls sê in sy verklaring hy is oorweldig deur al die liefde en ondersteuning wat hy sedert die skietvoorval ontvang het. “My gedagtes is met almal wat Halyna geken en liefgehad het.”

Halls se prokureur het nie dadelik op AFP se versoeke om kommentaar gereageer nie.

Maroela Media het vroeër berig Halls is glo al vantevore op die stel van Into the Dark afgedank nadat hy veiligheidsmaatreëls oor die hantering van wapens verontagsaam het en iemand as gevolg daarvan beseer is.

Sy verklaring volg kort nadat Baldwin die afgelope naweek vir die eerste keer openlik gepraat het oor die noodlottige skietvoorval.

Die Hollywood-akteur het onder meer gesê dat daar beter vuurwapenbeheer op rolprentstelle moet wees. Hy het egter benadruk dat hy deur die polisie aangesê is om glad nie met die media oor die voorval of die ondersoek daarna te praat nie.

Aanklaers weier intussen om die moontlikheid van strafregtelike vervolging uit te sluit.

Adan Mendoza, balju van die Santa Fe-distrik, het gesê skerp ammunisie “moes glad nie daar gewees het nie”.

Volgens Mendoza blyk dit ook dat “daar ʼn mate van selfvoldaanheid op stel was”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Aai ·

Daar is twee wat moet sit die een wat vuurwapen gelaai het met blanks (moes dit opgepas het en nie gesit het waar enige iemand iets kon verander het en die een wat wapen aan Alec oorhandig het en gese het “COLD GUN”hulle was altwee nalatig klaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.