Australiër oorleef struweling met krokodil

Foto ter illustrasie. (Foto: NORBERTO DUARTE / AFP)

ʼn Man het in Australië met ligte beserings daarvan afgekom ná ʼn struweling met ʼn krokodil. Die krokodil het die 44-jarige man aangeval terwyl hy in die Placid-meer naby Cairns in Queensland geswem het.

Nietemin sê die man wie se naam nie bekend gemaak is nie hy sal nie huiwer om weer in dié meer te gaan swem nie.

“Die man het geswem toe hy ʼn skielike impak om sy kop voel. Hy het dadelik besef dat dit ʼn krokodil is en sy hande in die dier se bek gedruk om sy kop daaruit te bevry,” het Paul Sweeney, ʼn paramedikus van Queensland se ambulansdienste aan AFP gesê. “Hy het daarin geslaag om sy kop uit die dier se bek te kry en die kake het op sy linkervoorvinger toegemaak.”

Volgens Sweeney het die man ʼn aansienlike afstand terug na die oewer geswem, bang dat die krokodil sou terugkeer. “Nooddienswerkers het die man in ʼn verbasend kalm toestand op die oewer aangetref.”

Sweeney sê hoewel die man bytmerke aan sy kop, gesig, skouer en hande opgedoen het, het hy sonder enige ernstige beserings daarvan afgekom. Die man is na ʼn hospitaal in Cairns geneem en sal na verwagting ten volle herstel. “Hy is ʼn baie gelukkige man.”

Soutwaterkrokodille word dikwels in dié gebied aangetref, maar daar is selde ʼn voorval waar iemand deur ʼn krokodil aangeval word.

“Hy is nogal ʼn robuuste ou wat daarop aangedring het dat hy binnekort sal terugkeer na die meer om te swem. Hy is dus baie brawer as ek,” het Sweeney opgemerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Cherokee ·

Woord wat ek toeka se jare laas gehoor het, is domastrant.

Tanniepetoors ·

Wysvinger, of as dan nog nie verstaan nie, vinger naaste aan jou duim. Mooi, beskrywende Afrikaanse woord.

Sêmanet ·

Dan moet hy maar opgevreet word. Hoe onnosel wil die mensdom nog wees? Hy kan bly wees hy leef om die storie te vertel. Sy familie kon nou gestaan en huil het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.