Baanbreker-rocker Jerry Lee Lewis sterf

Jerry Lee Lewis (Foto: Robyn Beck, AFP)

Jerry Lee Lewis, die sanger wat veral bekend is vir “Great Balls of Fire”, is Vrydag in die ouderdom van 87 dood.

Hy was een van die laaste oorlewendes van rock ʼn’ roll se goue era in die 1950’s. Hy was ook vriende met die rock-koning, Elvis Presley.

Lewis se agent het hom beskryf as “miskien die laaste ware, groot ikoon van rock ʼn’ roll”.

Lewis, bekend vir sy blonde haarlokke, hamerende klavieraanslag en energieke verhoogpersoonlikheid, is aan natuurlike oorsake dood.

Sy loopbaan van meer as 50 jaar het ʼn magdom stories opgelewer wat dikwels die publiek se wenkbroue laat lig het – met betrekking tot sy baie vroue, drinkery en ook belastingontduiking.

Lewis is op 29 September 1935 in Ferriday, Louisiana, gebore.

Op negejarige ouderdom het hy die eerste keer agter die klawerbord ingeskuif. Die jaar daarna het sy ouers, Elmo en Mamie, die familieplaas verkoop om vir hom ʼn klavier te koop.

Saam met sy neefs, Mickey Gilley en Jimmy Swaggart, wat onderskeidelik ʼn bekroonde country-musikant en evangelis geword het, het Lewis ure deurgebring om sy musiek te vervolmaak.

Omstrede lirieke

(Eric Alper, Twitter)

Lewis is in 1956 na Memphis, Tennessee – die Amerikaanse stad wat bekend is vir sy soul-, blues- en rock-musiek – om kontak te maak met die musiekvervaardiger Sam Phillips by Sun Records, wat ook betrokke was by Presley se suksesvolle musiekloopbaan.

Lewis, Presley en Johnny Cash het daardie jaar saam met Carl Perkins die treffer “Million Dollar Quartet” opgeneem.

Lewis het die volgende jaar bekendheid verwerf met sy treffer “Whole Lotta Shakin’ Goin’ On” – waarvan die omstrede lirieke sommige radiostasies geskok het en aanvanklik geweier het om dit te speel.

“Dit was net nog ʼn liedjie vir my,” het hy in 2006 aan The New York Times gesê. “Die meisies het ʼn bietjie berserk gegaan, maar dit is meisies vir jou.”

‘The Killer’

“Great Balls of Fire” bly een van Lewis se topverkoper-enkelsnitte en was ook die titel van ʼn 1989-rolprent oor Lewis se lewe, waarin Dennis Quaid die hoofrol vertolk het.

In 1958 het Lewis – met die bynaam The Killer – se vertonings altyd volgepakte gehore gelok en die geld het ingestroom. Hy het daardie jaar ʼn derde treffer, “Breathless”, uitgereik.

In ʼn era toe selfs die geringste beweging van die onderlyf deur Presley ʼn sensasie veroorsaak het, het Lewis dit verder geneem deur sy hande en voete op die klawers te stamp en hy het bo-op sy vleuelklavier gespring en gegil van genot.

Lewis het selfs sy klavier aan die brand gesteek.

“Wie sou kon dink dit sou ek wees?” het die rocker jare later gesê.

Elton John het op Twitter geskryf: “Sonder Lewis sou ek nie geword het wie ek vandag is nie en ek verwys na hom as ʼn baanbrekende inspirasie.”

Die skandaal

Elton John en Jerry Lee Lewis (Foto: Elton John, Twitter)

Lewis se sukses was egter van korte duur toe dit in 1958 aan die lig gekom het dat hy met sy 13-jarige niggie, Myra Gale Brown, getroud is.

“Ek het geweet dit was sleg; ek het geweet dit was verkeerd,” het Lewis later aan The Washington Post gesê.

Hy is daarna op die swartlys van radio en televisie geplaas.

Hy was genoop om saans enkelaand vertonings in kroeë en klein klubs te doen.

“Van 10 000 dollar per nag tot 250 dollar is ʼn helse teleurstelling,” het Lewis gesê.

Met die volgende geslag musikante soos The Beatles wat 1960’s oorheers het, het Lewis uit die kollig verdwyn. Nietemin het hy ʼn inspirasie vir sy opvolgers gebly.

Toe hulle mekaar in die vroeë 1970’s ontmoet het, het John Lennon gekniel om Lewis se voete te soen en vir hom gesê: “Jy is die man wat dit vir my moontlik gemaak het om ʼn ster in rock ʼn’ roll-musiek te wees.”

“Ek het net gevries,” het Lewis daarna aan GQ gesê.

Musikale nalatenskap

Lewis, Presley en Johnny Cash het in 1956 saam met Carl Perkins die treffer “Million Dollar Quartet” opgeneem (Foto: Twitter)

Lewis het country-musiek as ʼn nuwe manier van uitdrukking begin ondersoek en het ook weer van sy bekende musiek opgeneem.

In 1986 was hy deel van die eerste groep musikante wat in die Rock and Roll Hall of Fame opgeneem is, saam met ander bekendes soos Presley, Berry, James Brown en Ray Charles.

Hy het in 2005 ʼn Grammy vir sy lewenslange prestasie in musiek ontvang.

Hy het laat in sy lewe saam met Mick Jagger en Eric Clapton aan albums gewerk.

“Jou liedjies het my lewe verlig,” het Jagger op Twitter geskryf.

Lewis se persoonlike lewe was dikwels stormagtig. Ná ʼn huwelik van 14 jaar met Myra, die vrou wat hom van fisieke en geestelike mishandeling beskuldig het, is die egpaar geskei.

Lewis was twee keer voor Myra getroud, en daarna het Lewis vier keer getrou. Hy het ses kinders gehad. Een het as kleuter in ʼn swembadongeluk gesterf, en ʼn ander een is in ‘n motorongeluk dood.

In 1993 het argumente met die Amerikaanse regering oor agterstallige belasting daartoe gelei dat amptenare beslag gelê het op Lewis se klaviere, meubels en ander persoonlike items om sy skuld te verhaal.

Lewis, ʼn berugte harde drinker, was by tye verslaaf aan voorskrifpille.

Hy het laat in sy lewe weer baie getoer, hoewel hy later sy vertonings moes kortknip weens ʼn beroerte in 2019.

“Wanneer mense dink aan my loopbaan, wil ek hê hulle moet nie my skandale onthou nie. Ek wil hê hulle moet my onthou bloot vir my musiek,” het Lewis gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.